Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis waar, stilte is inderdaad ’n taal van sy eie
Abraham H. de Vries Foto: Nardus Engelbrecht

Nou een nag in grendeltyd word ek wakker. Nie in ons huis in die Kaap waar ek aan die slaap geraak het nie, maar in my slaapkamer in Volmoed op Winkelplaas in die Klein-Karoo.

Deur die groot ruite van die venster aan die lusernland se kant van die huis skyn die maan helder op die groot tekening van ’n engel wat waghou oor ’n seuntjie dat hy nie oor ’n afgrond val nie. Waar kom juis dié droom vandaan, hoekom nie een van die ander in die eetkamer waar die voorgeslagte ook teen ’n muur hang nie, het ek gewonder en weer weggeraak.

Die volgende oggend het ek wakker geword in die oorverdowende stilte van die stad, ’n stilte wat ek net in die Klein-Karoo sou verwag. Geen motors, geen geluide, geen kinders wat skool toe en ouers wat werk toe gaan nie. Die kleure van die verkeersligte bly nodeloos aan die verander.

Dié nuwe stilte in die stad het die Klein-Karoo se stilte wakker gemaak. My twee wêrelde, my twee verlanges.

Die geraamde foto’s, tekeninge, skilderye, selfs die meubels in Volmoed was nog nooit dooie dinge nie. Die kombuiskas van Izak Bruwer se ma het ek op ’n vendusie gekoop, want ek wis dis deur ’n handwerk-onderwyser gemaak, met rakke en laaie en deure se planke byna naatloos gelas sonder ’n enkele spyker of skroef.

Stilte is iets vreemds. Adam Small het gesê stilte is ’n taal. En dis waar.

So uniek soos in my studeerkamer in die stad die geraamde, skaars ontsyferbare handtekening van die blinde Jorge Luis Borges, wêreldbekende Argentyns gebore kortverhaalskrywer, essayis, digter en vertaler. Gekry by Elsa en Klaas Steytler, wat hom in 1985 besoek het.

Stilte is iets vreemds. Adam Small het gesê stilte is ’n taal. En dis waar. Soos vroegoggende die nag afskud, het stiltes die manier om uit stiltes ondervindings, verhale en insigte te voorskyn te tower en iets anders daarvan te maak.

In Volmoed se voorhuis hang die foto van ma Anna. In die raam aan haar regterkant hang die Van der Vyvers, en links die De Vriese. Wat min oorblywende familie sal weet, is dat Oumoedie, soos my suster haar genoem het, ál was van die vyf op die foto wat haar eie lyf het.

Die De Vries- en Van der Vyver-grootouers se streng gesigte is hul eie, maar nie hulle lywe nie. ’n Rondreisende fotograaf het hul koppe naatloos laat inpas in bestaande lywe, soos kinders in pretparke as hulle vir kiekies deur die gat in ’n kartonlyf van ’n hanswors kyk.

Langs die familie teen die muur langs my werkplek hang De breede en de smalle weg, die Nederlandse variant van Charlotte Reihlen uit Stuttgart, Duitsland, se ontwerp. Paul Beckmann het die tekeninge gemaak vir Jesus se woorde in die Bergrede (Mattheus 7:13).

In Suid-Afrika is die oorspronklike Nederlandse weergawe lankal Africana. Dit het my pa nie geweet toe hy die tekening by ’n leweransier van die winkel present gekry het nie.

Die nuwe stiltes in die Kaap en die Klein-Karoo maak dae vol drome wakker.

Meer oor:  Stilte  |  Koronavirus  |  Taal  |  Inperking  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.