Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dís wat Covid ons geleer het
Rapule Tabane

Covid-19 het reeds meer as 600 000 Suid-Afrikaners geraak en meer as 13 000 mense is dood. Ons is heeltyd blootgestel aan die moontlikheid van infeksie, maar ons het weens die pandemie ook ’n paar lesse geleer oor die lewe en ons gemeenskap.

Deur maatreëls wat ontwikkel is om Covid-19 te bestry, het ons finaal vasgestel presies hoe groot probleem alkohol in ons lewe is. Tot groot konsternasie van talle het die regering die verkoop en verspreiding van alkohol verbied as ’n maatreël om meer hospitaalbeddens beskikbaar te kry vir Covid-19-pasiënte.

Deur dié oefening het ons gesien watter rol drankmisbruik speel in motorongelukke in die land. Telkens wanneer die verbod op drankverkope opgehef is, was daar ’n skerp toename in motorongelukke.

Die mees tragiese hiervan is die beweerde dronkbestuurder wat in ’n voertuig van die Tshwane-metropolisie vasgejaag het en die dood van drie beamptes veroorsaak het. Die eerste naweek na die opheffing van die verbod op die verkoop en vervoer van drank, is 48 ongelukke in Mpumalanga aangemeld, waarin nege mense dood en 54 ernstig beseer is. In Gauteng is 700 mense daardie naweek in hegtenis geneem vir dronkbestuur. Dit sluit nie diegene in wat in hospitale opgeneem is weens beserings wat verband hou met aanrandings en gevegte wat ontstaan het omdat mense gedrink het nie.

Ons moet maniere kry om mense aan te moedig om verantwoordelik en in die veiligheid van hul eie huis te drink.

Suid-Afrika moet regtig iets hieraan doen, selfs in die tyd ná Covid-19. Ons moet maniere kry om mense aan te moedig om verantwoordelik en in die veiligheid van hul eie huis te drink. Dit lyk asof probleme ontstaan wanneer mense in groepe drink en dan van dié drinksessies of partytjies af daarop aandring om agter die stuurwiel in te skuif.

Die grendeltyd het my nóg ’n les geleer. Ons weet misdaad in die land is sedert die vroeë 1990’s buite beheer en ons het hulpeloos toegekyk hoe die polisie en die vervolgingsgesag beheer oor die situasie verloor. Weens inperkingsmaatreëls soos ’n aandklokreël, beperkings op bewegings en mense wat van die huis af werk, het misdaadvlakke die afgelope vier maande gedaal.

Moord het byvoorbeeld afgeneem met 64%, verkragting met 82% en aanranding met die doel om ernstig te beseer met 80%. Namate van hierdie beperkings opgehef is, het sekere soorte misdaad weer toegeneem.

Dit ’n duidelike bewys dat daar maniere is waarop misdaad beheer kan word, selfs al beteken dit dat ons van ons vryhede moet opgee.

Misdaad is net so ’n groot krisis soos Covid-19.

Misdaad is net so ’n groot krisis soos Covid-19. Die uiteindelik oplossing vir misdaad is natuurlik die verbetering van mense se lewensgehalte en sosio-ekonomiese toestande. Maar ons is nog ver van daar af, ondanks politici wat anders beweer.

Owerhede behoort die lesse te bestudeer wat ons in die grendeltyd geleer het en kyk wat toegepas kan word om erge misdaad post-Covid-19 te bestry.

Die duidelikste en pynlikste les van die pandemie het ons geleer omdat die ANC-plunderaars se doen en late in ’n tydperk van drie tot vier maande gekonsentreer was. Dit het ons die volle prentjie gegee van wat hulle nou reeds 25 jaar doen. Tenders gaan altyd na mense met ANC-verbintenisse (verdiend of onverdiend), maar kontrakte vir persoonlike beskermende toerusting het ons oë geopen vir die enormiteit, gevoelloosheid, gulsigheid en blatantheid van dié korrupsie.

Indien ons enige twyfel of verduidelikings gehad het, of gedink het korrupsie word net gepleeg deur vrot appels naby Jacob Zuma, dan weet ons nou dit is eintlik ’n kultuur wat diep binne die ANC gevestig is.

  • Tabane is politieke redakteur van City Press.
Meer oor:  Rapule Tabane  |  Drankverbod  |  Covid  |  Dronkbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.