Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dís wat DA oor swart ekonomiese bemagtiging sê

Die DA loop onder kritici aan albei kante van die politieke spektrum deur oor sy beleid wat swart ekonomiese bemagtiging betref. John Steenhuisen verduidelik wat die party daarmee in gedagte het.

John Steenhuisen aan die woord by die bekendstelling van die DA se manifes. Foto: Deaan Vivier

Die DA het verlede naweek sy manifes vir die verkiesing in 2019 bekend gestel. Een van ons beleidspunte is gegrond op bemagtiging en om die ongeregtighede van die verlede reg te stel.

Vanselfsprekend is daar sommiges wat ons standpunt sal verdraai en manipuleer om hul eie agendas te bevorder. “Die DA diskrimineer teen wit mense,” skree sommiges.

“Die DA wil dieselfde regstellende aksie as die ANC toepas,” protesteer ’n ander groep.

Dit kan nie verder van die waarheid af wees nie en dis belangrik om die DA se beleid oor breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BSEB of BBBEE in Engels) vir eens en altyd te verduidelik.

Eerstens glo die DA dat ras een van die maatstawwe vir benadeling is, maar dis beslis nie die enigste een nie. Daar is ’n groeiende swart middelklas en daarom kan ras nie die enigste faktor wees nie; ’n mens moet ook na ander sosio-ekonomiese faktore kyk.

Ons glo daarom nie dat ras altyd ’n maatstaf vir benadeling gaan wees nie, want ons uiteindelike visie is een van ’n werklike nierassige Suid-Afrika. Die hartseer werklikheid is dat ons dit onder die ANC nog glad nie bereik het nie.

BSEB het heeltemal gefaal, het nie die breë gemeenskap bereik nie en bemagtig nie mense nie. Swart huishoudings het eintlik oor die laaste dekade armer geword. En dis hoekom ons ’n alternatiewe model nodig het.

Die ANC se huidige BSEB-stelsel sien net om na die welgestelde elites en dié wat maatjies met ANC-kaders is. ’n Klein groepie individue word verryk, terwyl die res van die land in armoede lewe.

Vir diegene wat steeds wonder: Die DA verwerp die ANC se weergawe van regstellende aksie summier.

Die DA verwerp hierdie benadering ten sterkste en glo dis alledaagse landsburgers sonder enige politieke bande wat voordeel uit bemagtiging moet trek.

Ons benadering fokus op onderwys en vaardighede, van primêre tot tersiêre vlak. Ons voorgestelde benadering mik om spoedig werk te skep vir honderdduisende mense en nie net ’n paar ANC-lojaliste nie. Dis broodnodig om individue op te lei, te koester en te ondersteun om hul eie ondernemings te begin.

Vir diegene wat steeds wonder: Die DA verwerp die ANC se weergawe van regstellende aksie summier. Ons aanbod is werklik gemik op die breër gemeenskap en probeer om die muur af te breek tussen dié wat “het” en dié wat “nie het nie”.

Die DA ondersteun ’n vereenvoudigde BSEB-verifikasiestelsel wat werklike bemagtiging meet. Die huidige telkaart sal drasties vereenvoudig word met tydlyne wat duidelik gestipuleer word (dit sal ondernemings help om op medium en lang termyn te beplan).

’n Deel van die skare wat die bekendstelling van die DA se manifes in die Randse Stadion bygewoon het. Foto: Elizabeth Sejake

Die nuwe telkaart sal die pogings van die privaat sektor om dié wat “nie het nie” op te hef raaksien en fokus op die volgende:

* Eerstens moet waarde geheg word aan aandele- en eienaarskapskemas vir werknemers sodat hulle as ’n groep belanghebbendes kan word. Dit sal bemagtiging laat toeneem en die maatskappy sal voordeel trek uit die produktiwiteit wat saam met eienaarskap kom.

* Tweedens moet alle besteding om onderwys, vaardighede en ervaring te verbeter in ag geneem word. Opleiding, beurse, mentorskap, vakleerlingskappe en internskappe moet ook verbeter word.

* Derdens moet maatskappye beloon word as hulle meer mense aanstel. As jy nie ’n entrepreneur kan wees nie, is die beste bemagtiging om met ’n werk jou voet in die deur te kry.

* Laastens moet maatskappye beloon word vir die ontwikkeling van entrepreneurs, of dit nou deur regstreekse mentorskap of deur subkontrakteurs of verskaffers gedoen word.

Die DA het dus ’n geloofwaardige alternatief tot die ANC se weergawe van BSEB. Ons plan maak seker dat alle Suid-Afrikaners die geleentheid het om hul vaardighede en talente te gebruik en te ontwikkel, en om uit die kloue van armoede te ontsnap.

* Steenhuisen is die hoofsweep van die DA. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  John Steenhuisen  |  Verkiesing2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.