Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis weer tyd vir ‘Umshini wami’

Soms moet ’n mens versigtig wees waarvoor jy wens. Jou wense word dalk net bewaarheid.

Dis nou die geval met oudpres. Jacob Zuma. Toe die wapenskandaalbom in 2005 bars en Zuma in die oog van die storm geplaas is, het hy herhaaldelik gesê hy wil sy dag in die hof hê om sy kant van die saak te stel.

Johann Maarman

Selfs die wapenskandaal, wat soos ’n blok aan Zuma se enkels geketting was, kon nie sy opmars na die Uniegebou stuit nie.

Zuma se verweer elke keer was dat sinistere magte met geheime agendas hom tot ’n val wou bring.

Die wapenskandaal – een van die grootste bedrogsake in die geskiedenis van Suid-Afrika – was ook direk daarvoor verantwoordelik dat ’n staatshoof in die pad gesteek is.

Zuma en sy politieke kartel het voet by stuk gehou dat Thabo Mbeki die hoofargitek agter ’n komplot is om te keer dat hy die nuwe intrekker in die Uniegebou word.

Zuma en sy kohorte het Mbeki toe teen die muur staangemaak, geblinddoek en hom as ’t ware polities gefussileer. Met die dooie slang (soos neerhalend na Mbeki verwys is) se kop wat afgekap was, was sy pad na die Uniegebou geplavei.

Zuma is loshande die swakste president van die ANC én die swakste president wat Suid-Afrika nog gehad het. Hy klop selfs die hardkoppige PW Botha.

Die amabutho, die aanwesigheid van Zuma se voetevallers en 'Umshini wami' is die perfekte rekwisiete vir Zuma se politieke teater.

Nou, ná nege jaar, gaan Zuma kry waarvoor hy gevra het: sy dag in die hof om sy onskuld te bewys. Hy sal teregstaan op 16 aanklagte van bedrog, geldwassery, korrupsie en rampokkery.

En dis juis hier waar die spanningsdrade gespan is. Zuma gaan nie soos ’n lam ter slagting wees nie. Hy gaan ba­klei – al is dit ook vuil – om uit die tronk te bly. Hy is die Bakkies Botha van die Suid-Afrikaanse politiek.

Maak maar klaar dat die amabutho (Zoeloe-krygers) in hul honderde na die hof gaan opruk. Net soos met die Khwezi-verkragtingsaak gaan ’n trok voor die hof geparkeer word met hengse luidsprekers. Die nagwake gaan weer begin. Die ANC-vroueliga gaan opdaag in T-hemde met Zuma se gesig daarop. Simpatieke politici gaan weer die verhoog met hom deel en die blaam vierkant op pres. Cyril Ramaphosa pak.

Laat ons tog nie vergeet dat die ANC-vroueliga nog altyd Zuma se skoothondjies was nie. Só ook die ANC-jeugliga.

’n Mens kan ook daarop wed dat Zuma weer “Umshini wami” gaan afstof.

Die amabutho, die aanwesigheid van Zuma se voetevallers en “Umshini wami” is die perfekte rekwisiete vir Zuma se politieke teater.

Ons, die gewone burgers, en die regering sal dus uiters waaksaam moet wees, want ons het hier te doen met ’n benoude kat wat benoude spronge maak.

Maar dit is die amabutho oor wie ’n mens bekommerd moet wees. Zuma het die middag voor sy bedanking as president nog gewaarsku dat hy “sy soldate” kan loslaat, maar dat hy nie bloedvergieting in sy naam wil hê nie.

Zuma is ’n spesialis op die gebied van mobilisasie. Hy weet hoe om die hartsnare van mense te roer deur bloot net populistiese uitsprake te maak.

Ons sien reeds dat Zuma aandui sy betrokkenheid by die wapenskandaal was omdat hy kamma swart ekonomiese bemagtiging wou bevorder en verhaas het.

Swart ekonomiese bemagtiging en radikale ekonomiese bemagtiging is juis die geluide wat die volk op grondvlak wil hoor.

Zuma gaan dus met hierdie hofsaak opnuut sy gewildheid toets en hy gaan die wêreld vir mense moeilik maak wat hom graag in die tronk sal wil sien.

Hy het ook die vermoë om hierdie land tot by plofpunt te bring. Ons, die gewone burgers, en die regering sal dus uiters waaksaam moet wees, want ons het hier te doen met ’n benoude kat wat benoude spronge maak.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Jacob Zuma  |  Rubriek  |  Staatskaping  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.