Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit gaan lekker Cofiks daar by Liesbet-hulle
Blouwillem

Terwyl ons eie oudstryders maar eensaam en langsaam hul dae sonder kinders en kleinkinders in die kieriekastele moet verwyl, gaan dit heel jolig daar by tant Liesbet-hulle in Ingland. Cofiks en gesond!

’n Week of wat gelede sien ons ’n foto van die antie (94) op haar perd, Balmoral Fern, se rug: reg vir haar oggenduitstappie op die gronde van die Windsor-kasteel.

Nie sy, haar hoofperdekneg óf die perd is gemasker of handhaaf enige sosiale afstand nie. Ná haar uitdraffie wag daar by die kasteel ’n klein ondersteuningsgroepie van 22 lyf- en porseleinkoosknegte en haar sewe Corgi’s (wie se bene te kort is vir uitdraffies) met warm scones, roompies en aarbeie.

En net as ’n verdere bewys van hoe geseënde, gesonde gene en ’n lekker jolige, stresvrye lewe jou dae hier op die ondermaanse kan verleng, sien ons hierdie week dat prins Flippie, die ou aardsrakker, sowaar sy 99ste verjaarsdag daar in die kasteel gevier het.

Dik Daan, wat onsuksesvol met die prins probeer zoem het, sê hy wonder of die oom ooit so oud sou geword het as hy nie so deur die spanningsvolle dae daar in die Buckingham-paleis, saam met sy ou pêlle jakkalse en ander ou oulike diertjies kon gejag het nie.

Daan sê hy wonder of sy prinslike hoogheid darem al weer sy bestuurslisensie teruggekry het ná sy onlangse Landroller-ongelukkie.

Daan sê hy wonder of sy prinslike hoogheid darem al weer sy bestuurslisensie teruggekry het ná sy onlangse Landroller-ongelukkie.

Ant Liesbet en haar liefde vir haar perde laat ’n mens terugdink aan die verhaal van aartsbiskop Desmond Tutu se besoek aan die koninklike stalle saam met die trotse antie ’n stuk of 20 jaar gelede. Terwyl hulle by een van die stalle inloer, kom daar skielik ’n knal of twee uit die stal (soos dit maar met perde gaan). Die koninklike hoogheid verstyf en maak onmiddellik verskoning. “Absolutely not necessary to apologize Your Highness,” stel die Arch haar galant gerus. “Frankly speaking, I thought it was the horse.”

Ouboet Jan was toe Sondag kerk toe, al was dit vir die B-span. Die storie het egter ’n ou kinkeltjie waaroor Ouboet selfs dwarsdeur sy masker en ’n telefoonkabel bloedrooi bloos. “Jy vertel vir niemand dié storie nie!” dreig hy, maar vertel tog verder.

“Ek skrik die oggend vervaard wakker, kry vir vroulief met ’n dolle geskarrel in die bakkie en jaag kerk toe met minus agt grade op die termometer (ja, agt en nie vier soos die weerraai­buro sê nie). Daar gekom, is daar nie ’n siel in sig nie. Nie koster of kerkmuis nie.

“Ek dog ek het die tyd verkeerd en bel ou Herkie, hoof van ons gemeente se sanitasiebevelsraad. ‘Maar ou Jan, daar sál mos natuurlik nie mense wees nie, dis dan vandag Saterdag!’

“In elk geval, een manier om sosiale afstand in die kerk te handhaaf, is seker om ’n dag vroeg daar op te daag, of hoe?” verdedig hy sy ligte faux pas skaam-skamerig.

Darem eintlik wonderlik as ’n man op 84-jarige jongerdom nog oor enigiets kan bloos, nè?

Meer oor:  Blouwillem  |  Korona  |  Kerkdiens  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.