Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít gaan nog erge probleme vir die EU skep

Die meeste berigte oor die pas afgelope spitsberaad van die Europese Unie (EU) het gehandel oor die oprigting van ’n Covid-19-stabiliteitsfonds van 750 miljard.

Aandag is veral gegee aan die meningsverskille tussen die “suinige” noordelike lande (Nederland, Denemarke, Swede, Finland en Oostenryk) teenoor die suidelike lande, wat geld by wyse van spreke soos confetti strooi (veral Frankryk, Italië, Spanje en Portugal).

In die proses het ’n ander, ewe belangrike, saak na die agtergrond geskuif, naamlik ’n poging van die westelike lidlande, met Nederland aan die voorpunt, om die Covid-19-fonds onderhewig aan die nakoming van die liberaal-demokratiese regstaat te maak.

Veral Pole en Hongarye hol aspekte van die regstaat stelselmatig uit, veral wat betref die onafhanklikheid van die regbank en vryheid van spraak. Soos ’n Poolse regter in Januarie aan die Europese Hof gesê het: “Die doel van die sogenaamde hervormings is nie om die reg beter te laat werk nie. In werklikheid is die regters die teiken van die hervormings, en hulle wil ons afhankliker van die uitvoerende en wetgewende mag maak.”

Volgens art. 7 van die EU-handves kan lidlande wat die regstaat aantas, onder sanksies deurloop. Die Europese Parlement het kragtens dié artikel verhore gehou, maar niks het nog gebeur nie.

In Brussel wou Mark Rutte, die Nederlandse premier, die Covid-19-hulp aan die eerbiediging van die regstaat koppel. Viktor Orbán, sy Hongaarse eweknie, het dit geveto, en ’n verwaterde bewoording is toe aanvaar. Daarvolgens moet nou ondersoek ingestel word na ’n meganisme om die saak te reël. Dus het Orbán Rutte se offensief minstens tydelik gestuit.

Die EU kan polities en ideologies kwalik geloofwaardig wees as hy in eie geledere flagrante oortreders soos Pole en Hongarye duld.

Die angel in die stert is dat die meganisme voor einde vanjaar in werking moet wees en dat die goedkeuring daarvan met ’n gewone meerderheid kan geskied.

Orbán se vermoë om die saak te veto, is daarmee weggeneem.

Die probleem is dat die regstaat, wat die onafhanklikheid van die regbank insluit, ’n hoeksteen van die liberaal-demokrasie en van die Europese politieke kultuur is. Die EU kan polities en ideologies kwalik geloofwaardig wees as hy in eie geledere flagrante oortreders soos Pole en Hongarye duld.

Net om die saak nog ingewikkelder te maak, is die regs-populistiese pres. Andrzej Duda van Pole pas herkies. Dat dit met ’n flenterdun meerderheid gebeur het (51,2% teenoor 48,8%), maak dit nie minder van ’n werklikheid nie.

Ook in Hongarye is Orbán besig om die demokrasie uit te hol. So is die redakteur van die nuuswebwerf Index.hu wat Orbán kritiseer, pas afgedank nadat die premier druk uitgeoefen het op die eienaar van die instansie, wat glo ’n goeie vriend is.

Dié kwessie gaan nog groot probleme vir die EU meebring.

Meer oor:  Menings  |  Leopold Scholtz  |  Eu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.