Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit help niks om ’n dooie perd te slaan
Annelie Botes

Toe ek die nuus hoor van die komende wetgewing rakende die Poskantoor en koerier-pakkies onder 1 kg, het ’n toestand van ongeloof oor my gedaal. Kan dit régtig waar wees dat die regering so ’n propperse boelie en bullebak is?

Oor die loop van enkele jare heen het die Poskantoor homself bo-oor die afgrond bestuur. Nou wil die regering ’n wet maak wat koerierdienste se bollies sal afdraai. Seker in die hoop dat die Poskantoor ’n engelgewaad van doeltreffendheid sal aantrek. Dis soos die Engelse spreekwoord sê: “To flog a dead horse.”

Nee, wat. Jy kan ’n dooie perd met ’n karwats slaan totdat jou arm in die skouerpotjie afbreek, maar dood is dood. Jesus kon Lasarus uit die dood opwek. Maar Hy Homself sou sugtend opgegee het met die Poskantoor. Met SAL, Denel en Eskom ook.

Sedert September is daar vanuit ons huis meer as 800 boekpakkies per koerier landwyd gestuur. Maklik 80% is binne 24 uur by voordeure afgelewer. Maksimum drie dae vir afgeleë dorpies soos Noenieput en Koffiefontein. En lesers sing lofliedere oor die vriendelike koeriermanne.

Nou sal die nuwe wet seker lui dat jy nie sand mag aflewer nie.

Die sewe pakkies met ’n oorsese bestemming moes noodgedwonge via die Poskantoor reis. Die gryse sê sy voetsole het later gebrand van toustaan. Elkeen van dié pakkies het meer as vier maande geneem om ’n huis te kry. Vir drie maande het ons geen benul gehad waar die pakkies hulle bevind nie. As ons nie die Poskantoor verpes het nie, wonder ek wat sou gebeur het.

Die Poskantoor reageer nie op e-posse nie. Oproepe word nie beantwoord nie. As jy uit radeloosheid in persoon afsit soontoe, gluur die klerke na jou asof jy hulle gevloek het. Koudhartig sit hulle die bordjie in jou gesig neer wat sê: “Closed. Please use next counter.” Dan beland jy agter in ’n ander lang tou.

Op ’n dag maak die gryse die eksodus Poskantoor toe vir ’n gesertifiseerde afskrif van sy ID-kaart. Nadat hy meer as ’n uur in die tou voortgeskuifel het, moet hy hoor hulle het al drie weke lank nie A4-papier nie; hy kan dus nie fotostate maak nie. Lagwekkend.

Vanweë uiters effektiewe afleweringsdienste van enige aard in Engeland, het die poskantoor aldaar betyds ’n geldkrisis sien kom. Deesdae is daar in menige supermark ’n klein kiosk wat posdienste lewer. Wys jou net: Voorsorg voorkom nasorg.

Die vrou in beheer van ’n klein sakeonderneming sê op televisie dat 90% van die pakkies wat sy versend onder 1 kg weeg. En sy weier om deur die Poskantoor te werk. Sy gaan iets in elke pakkie sit om die gewig op te stoot. Seker iets soos ’n geseëlde sakkie sand, skat ek. Slim, slim.

Nou sal die nuwe wet seker lui dat jy nie sand mag aflewer nie. Jy mag sand deur die Poskantoor pos, maar as jy dit versend, is jy ’n krimineel.

Is die regering nou waarlik besig om hul laaste teelepel breinpulp te verloor?

Meer oor:  Annelie Botes  |  Versend  |  Pakkies  |  Poskantoor  |  Wetgewing  |  Dooie Perd  |  Sand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.