Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít het Zuma, Malan gemeen
Leopold Scholtz

Wat verbind pres. Jacob Zuma en wyle dr. D.F. Malan, in lewe premier van die eerste regering van die Nasionale Party (NP) ná die verkiesingsoorwinning van 1948?

Ja, daar ís ’n sekere ooreenkoms in hul begrip van die demokrasie. Albei het geglo die kern van die demokrasie lê in die wil van die meerderheid en dat jy die reg het om mag sonder alte veel beperkings uit te oefen. (Natuurlik moet ’n voorbehoud onmiddellik hier getref word: Vir Malan was dit die wil van die meerderheid wittes; vir Zuma die numeriese meerderheid).

In elk geval, tydens sy premierskap het Malan groot moeite gedoen om bruin mense van die gemeenskaplike kieserslys verwyder te kry, maar het hom telkens teen die hooggeregshof as beskermer van die verskanste artikel oor bruin stemreg in die Grondwet vasgeloop.

Die artikel het ’n tweederdemeerderheid vir die wysiging van dié artikel vereis, wat die NP destyds nie had nie.

Malan se argument was dat niemand die regters verkies het nie (in teenstelling met die regering), en dat hulle sowel die soewereiniteit van die parlement as die wil van die volk dwarsboom.

Uiteindelik was dit Malan se opvolger, Hans Strijdom, wat ’n nuwe formule vir die aanwys van die senaat opgestel en vir die vereiste tweederde-meerderheid gesorg het.

Die NP se standpunt het dus daarop neergekom dat die wil van die meerderheid wet was. Hierdie selfde gees tref jy by Zuma aan.

In 2012 het hy byvoorbeeld volgens Hansard in die parlement gesê: “Sorry, we have more rights here because we are a majority. You have fewer rights because you are a minority. Absolutely, that’s how democracy works. So, it is a question of accepting the rules

within democracy and you must ope­rate in them.”

Dis ’n poging om “sonder ’n meerderheid” van hom ontslae te raak, het hy te kenne gegee.

Verlede week het hy laat blyk die poging om ’n geheime stemming toe te laat wanneer die Nasionale Vergadering ’n mosie van wantroue teen hom oorweeg, is ondemokraties.

Dis ’n poging om “sonder ’n meerderheid” van hom ontslae te raak, het hy te kenne gegee.

Natuurlik is dit waar dat die wil van die meerderheid ’n noodsaaklike onderdeel van die demokrasie is. Die samestelling van die regering moet verkieslik die uitslag van die verkiesing weerspieël.

Maar as dit bloot om verkiesings en die wil van die meerderheid gaan, is daar bitter min verskil tussen Zuma en Malan/Strijdom. Dan is dit bloot wat geleerdes noem ’n “illiberale demokrasie” – een waar die regering tussen verkiesings maak en breek soos hy wil. Zimbabwe is ’n goeie voorbeeld.

Nee, die moderne regstaat vereis die erkenning dat die regering net soveel soos elke burger die reg moet gehoorsaam. Die hoogste reg is te vinde in die Grondwet, en die konstitusionele hof is die waghond wat binne perke moet bepaal hoe die Grondwet in onduidelike gevalle uitgelê moet word.

In dié geval, het die hof bevind, mág die speaker, Baleka Mbete, ’n geheime stemming by ’n mosie van wantroue teen die president toelaat.

Die kans is goed dat Mbete, ’n politikus wat nog nooit in haar lewe ’n gedagte gehad het wat teen die instruksies van Luthuli-huis indruis nie, se vernaamste oorweging sal wees om te doen wat Zuma se belang vereis. Nie wat in wese goed vir die land of die demokrasie is nie.

Volgens waarnemers lyk dit of dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die persoon wat die president graag as sy opvolger sien, tans voorloop in die wedloop. As dit so is, wag groot moeilikheid.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Pres. Jacob Zuma  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.