Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit hoef nie te alle tye ‘ten alle tye’ te wees nie
Prof. Gerhard van Huyssteen

Taalpuriste is ’n kwaai-kwaai klomp. Onlangs ontvang ek byvoorbeeld weer ’n e-pos waarin die skrywer (kom ons noem haar Corrigenda) kla oor die grammatikatoetser in die SkryfGoed 5-programmatuur. Met haar toestemming plak ek hier ’n ongeredigeerde uittreksel uit haar e-pos:

“Die fout wat ek in SkryfGoed 5 opgetel het is dat die program sê te alle tye moet lui ten alle tye. Na my mening kan net 1 uit 100 000 Afrikaanssprekende mense spel. Die verkeerd spel van sekere woorde word deur duisende taalgebruikers nageboots, en hierdie is een so ’n geval. Die korrekte spelling kan gekontroleer word deur na die Woordelys en Spelreëls, 2009, op p 424 te kyk asook na ander bronne.

“Dit is ongelooflik dat uiters onkundige mense toegelaat was om aan hierdie program te werk.”

Matteus 7:5 se splinters en balke is nie vandag ter sake nie; kom ons fokus op die kwessie wat ter tafel gelê is.

Corrigenda merk tereg op dat die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) slegs te alle tye erken.

Die grammatika­toetser is dus júis nonfascisties deur uit te wys dat wisseling moontlik is.

Haar interpretasie van die grammatikatoetser se aanbeveling is helaas nie 100% korrek nie, aangesien die voorstel lui dat daar “moontlik” ’n fout kan wees. Die grammatikatoetser doen dus niks anders nie as om haar aandag te vestig op ’n verskynsel waar meerdere stelwyses korrek sou kon wees.

Klop dit met die werklikheid?

  • As ’n mens in groot versamelings geredigeerde tekste na frekwensies gaan soek, blyk dit dat te alle tye in 72,6% van alle gevalle voorkom, ten alle tye 26,9% keer, en ter alle tye 0,5%. Laasgenoemde is weglaatbaar klein, maar as taalkundige kan ek nie ten alle tye se relatief hoë frekwensie ignoreer nie.
  • Inderdaad erken sommige woordeboeke (byvoorbeeld Taljaard se gesaghebbende Tweetalige voorsetselwoordeboek) te alle tye naas ten alle tye. Só gesien, is die grammatikatoetser dus júis nonfascisties deur uit te wys dat wisseling moontlik is. Ek gee wel toe dat die grammatikatoetser nie net te alle tye nie, maar ook ten alle tye as ’n wisselvorm moet merk.

In 2010 was die mees gestelde taalvraag by die Nederlandse Taalunie se taaladviesdiens (soortgelyk aan VivA se taaladviesdiens vir Afrikaans) die vraag oor die korrekte skryfwyse van “te allen tijden”. Dit blyk dus – ook vir ons noordertaalgenote – ’n moeilike kwessie te wees.

Uitdrukkings met te (soos te dien effekte), ten (soos ten gunste van) en ter (soos ter wille van) is sogenaamde historiese relikte – gefossileerde taalvorme wat deur gebruikers aangeleer word en wat nie deur die eietydse grammatika voorspel kan word nie; nuttige museum­stukkies in die Afrikaanse woordeskat.

Net soos wat fossiele verweer, so verweer hierdie taalelemente ook. In die nuwe AWS (wat volgende maand op die winkelrakke sal verskyn) kry ons byvoorbeeld te gronde gaan naas ten gronde gaan; te geleëner tyd of te gelegener tyd of ter geleëner tyd of ter gelegener tyd; te of ter ruste lê; ten tyde of tye van; ten minste of tenminste; ter syde of tersyde; ter wille van of terwille van.

Dit bly Corrigenda se verantwoordelikheid om hierdie fossieltjies aan te leer en ten minste konsekwent te gebruik. ’n Grammatikatoetser is bloot ’n hulpmiddel; dit kan steeds nie by ’n intelligente gebruiker kers vashou nie.

*Gerhard van Huyssteen was aanvanklik die projekleier vir die ontwikkeling van die Noordwes-Universiteit se SkryfGoed-pakket.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Woordwisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.