Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít hoort als op Zim se doenlysie

Zimbabwe en sy nuwe leier, pres. Emmerson Mnangagwa, het die goeie wense van die hele wêreld om te herstel van die Robert Mugabe-nagmerrie van die afgelope 37 jaar.

Mnangagwa het in sy eerste toespraak as staatshoof al die regte geluide gemaak. Selfs die hulde wat hy aan Mugabe in sy inhuldigingstoespraak gebring het, is met applous begroet.

Ondanks sy vergrype en vernielsugtigheid het Zimbabwiërs nog ’n sagte plekkie vir Mugabe. Hy sal nie tot verantwoording geroep word vir sy talle mistastings en vergrype nie en hy blyk verseker te wees van ’n rustige en gemaklike aftrede saam met sy berugte vrou, Grace, en hul kinders.

Dit is in Suid-Afrika se belang dat Zimbabwe werk. Ons huisves byna ’n derde van sy burgers, iets wat groot druk plaas op skaars hulpbronne. Suid-Afrikaners sal nie kla as uitgeweke Zimbabwiërs na hul tuisland terugkeer om te help met die heropbou daar nie.

Mnangagwa self het nie ’n vlekkelose rekord nie. Hy het ’n sentrale rol gespeel in die Matabeleland-slagtings
in die 1980’s, en hy was dekades lank Mugabe se handlanger en stormram.

Dié slagtings sal hom nog lank agtervolg, en dit sal interessant wees om te sien of die mense van dié streek hom sal vergewe en vir hom stem in aanstaande jaar se algemene verkiesing.

Hy het ongelukkig beklemtoon dat die grondhervormings nie omgekeer gaan word nie.

Hoog op sy agenda is die ekonomie wat byna heeltemal vernietig is deur Mugabe en Zanu-PF, die regerende party waarvan Mnangagwa nou ook die leier is. Mugabe het buitelandse beleggers uitgedwing en Mnangagwa sal bepaalde stappe moet neem om hul vertroue in Zimbabwe te herstel. Dit sal nie oornag gebeur nie

Mnangagwa het die belangrikheid daarvan beklemtoon om Zimbabwe se vorige status as “broodmandjie” van Suidelike Afrika te herstel.

Hy het ongelukkig ook beklemtoon dat die grondhervormings waartydens die plase van wit boere sonder vergoeding gegryp is, nie omgekeer gaan word nie. Die plase is grotendeels aan kaders van Zanu-PF oorhandig en die meeste daarvan is weens onkundigheid die grond in wanbestuur.

Mnangagwa sal maniere moet vind om die verlore kundigheid terug te kry in die Zimbabwiese landbousektor. Dit sal nie sonder politieke risiko’s wees nie, maar blyk onvermydelik te wees.

Grace Mugabe beplan glo om ’n universiteit in haar man se naam op een van haar plase te begin, glo teen ’n koste van $1 miljard, geld wat die land eenvoudig nie het nie. Dit is nie duidelik waar dié enorme bedrag geld vandaan gaan kom nie. Een ding is egter seker, dit is geld wat die ekonomie dringend nodig het vir meer verdienstelike uitdagings. Dit kan nié ’n prioriteit vir Zimbabwe wees nie.

Mnangagwa se groot toets kom in Augustus 2018 wanneer Zimbabwiërs na die stembus gaan. Hy sal ’n klimaat moet skep om ’n vry en geloofwaardige verkiesing te verseker.

Opposisiepartye het reeds te kenne gegee dat hulle gereed is om saam met hom en Zanu-PF te werk om die regte klimaat vir ’n behoorlike demokratiese verkiesing te vestig. Hy moet dié hand van vriendskap aanvaar en werk daarvan maak om Zimbabwe se gekneusde demokrasie te heel.

Suid-Afrika kan hiermee behulpsaam wees deur die lesse van ons eie ervarings te deel. Ons kan onder meer help om Zimbabwe se verkiesingsinfrastruktuur op te bou deur kundiges en kundigheid te deel.

’n Suksesvolle Zimbabwe is nie net in dié land se belang nie, maar ook in die belang van Suid-Afrika, die streek en die vasteland.

Mnangagwa het almal se ondersteuning nodig, mits hy natuurlik die regte dinge doen, soos wat hy in sy toespraak onderneem het.

Meer oor:  Robert Mugabe  |  Emmerson Mnangagwa  |  Zimbabwe  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.