Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit is alles te danke aan Eva, die digtervrou
Wilhelm Jordaan

Vrydag is Vrouedag, en ’n gepaste huldiging, reken ek, is ’n verkenning van die “Eva-hipotese” waarvolgens ’n vrou die eerste volbloed-voorbeeld van Homo sapiens was – vanweë haar beter ontwikkelde spraakorgane en stemhebbende vermoë!

Ek glo vas dié hipotese is waar, want in my gesinskontrei is daar minstens tien vroulikes wat met spraakvernuf en stemhebbendheid geseën is: My ma wat op ouderdom 100 oorlede is; my vrou van nagenoeg 50 jaar; twee dogters; drie skoondogters; en drie kleindogters.

Dan is daar nog in my werk- en vriendinnekring die “Vowels”, my akroniem vir die Vereniging van Onregeerbare Welsprekende Susters – almal stemhebbende beklinkers van die taal.

Met húlle as prototipe verbeel ek my die Eva-hipotese huldig ook die eerste oomblikke van taal – toe die ontwikkeling van die vrou se brein, borsholte, strottehoof en stemspleet só was dat sy ’n klank kon maak wat die oudste gevoel uitgedruk het: om in die gemoed beweeg te word.

Die trop het kreunend gekerm en gegrom. Aan die voorpunt was ’n vrou.

Miskien het dit gedurende die een of ander ystydperk gebeur. Daar was nie meer kos nie en die son het nie geskyn nie. Dit was donker en koud. Die trop het kreunend gekerm en gegrom. Aan die voorpunt was ’n vrou.

Terwyl sy al wiegend kreun, het sy algaande ’n nuwe ritme bespeur – dat sy saam met die wuiwende grassade, die waaiende bome en die vloei van die rivier in beweging is. Die trop het dit ook gesien, en saam met haar begin wieg en kerm.

Toe, eensklaps, het daar uit dié gesamentlike gemoedsbeweging ’n nuwe klank gekom. Nie meer ’n gekreun, gekerm en gegrom nie, maar ’n suiwer, helder en aangrypende klank.

Tegelyk uitdagend en smekend het die vrou dié nuwe klank stemhebbend die donkerte ingeroep. Toe breek die son deur.

En die vrou het iets gevoel wat anders was; iets wat gelyktydig vanuit haar binneste én uit dié van die trop gekom het. Dit was asof die hele wêreld, met hulle daarin, deur die klank omvou is. Trane het oor hul wange geloop oor die eerste klank wat woord geword het.

Oor en oor het die vrou dié klank laat dawer terwyl sy en die trop lag en huil en dans soos die son al hoër teen die hemel klim. Alles was onder die betowering van sonskyn en die klinkende nuwe klank.

Hulle het iets gekry waarmee hulle húl wêreld kon begryp en beheer – iets soos ’n kliktaal wat in die jagtyd vir die wild gerusstellend was; klanke wat soos gras geritsel het.

In daardie eerste verruklike klank was ook die saad van die eerste insig, die ritme van die eerste danslied, die roeringe van die eerste gebed, die vroegste verlange na ’n alomteenwoordige godheid, die grondstof van die eerste gedig, en die vooruitsig van die eerste wetenskap.

Dit alles te danke aan die eerste klanke – dié van Eva, die digtervrou.

  • Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Mensdom  |  Vrouedag  |  Vrou  |  Eva
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.