Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít is die groter prentjie

Die piek van Covid-19-infeksies is onafwendbaar en niks kan dit keer nie, selfs nie vlak 5-inperking nie. Theuns Eloff skryf hoekom ons nie op loop gejaag moet word deur paniek nie. 

Illustrasie: istock

As jy werklik perspektief wil hê, is dit nodig om die groter prentjie te sien, en dit te bly raaksien. Jy moet fokus op wat op lang termyn gaan gebeur, al gaan dit broekskeur op kort termyn. Dít is wat ons moet doen in hierdie tyd van Covid-19.

Ons is verby dag 100 van die inperking en ons is reeds langer as ’n maand op vlak 3. Ons word nou byna daagliks gekonfronteer met mediaberigte wat skreeu oor stygings in die infeksiekoers en nuwe brandpunte wat aan die ontstaan is.

Dit lyk asof Gauteng se infeksiekoers (en uiteindelike dodetal) dié van die Wes-Kaap en Oos-Kaap eersdaags gaan verbysteek.

Politici toets die water om weer na vlak 5 terug te keer, sekere politieke partye wil hê dat die skole weer sluit, en verpleegpersoneel dreig om te staak oor hulle werksomstandighede en gebrek aan persoonlike beskermende toerusting.

Die media, gewone mense en politici reageer asof dit onverwags is. Asof dit ’n nuwe en slegter scenario is as dié wat deur deskundiges voorspel is. Dit is asof ons die woorde van prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, ’n maand of twee gelede vergeet het: Die piek van infeksies is onafwendbaar.

Niks, nie eens ’n volgehoue inperking op vlak 5, gaan dit keer nie. Ons moes ons gesondheidstelsel en hospitale en toerusting rééds daarvoor gereed gemaak het sodat ons dit kan hanteer wanneer dit kom, nie ás dit (dalk) kom nie.

En dit is presies wat ons nou in verskillende grade en intensiteite in die verskillende provinsies beleef – die onafwendbare piek.

Maar hoekom is ons dan verbaas en selfs geskok? Hoekom wil party politici terugkeer na vlak 5?

Daar is inderdaad slegte nuus

Die huidige styging in die infeksiekoers en dodetal kan wel erger wees as gevolg van die onwilligheid van sommige mense om die basiese veiligheidsmaatreëls na te kom, soos om maskers te dra en om sosiale afstand te handhaaf. Ander het bloot “mak” geraak, verveeld met die beoefening van streng maatreëls. Dit is menslik, maar fataal.

Die feit bly egter staan dat ons nou die begin van die onafwendbare piek in infeksies begin sien.

En ewe skielik word mense bewus van hulle laksheid om ’n masker te dra, en om sosiale afstand te handhaaf. Ons skrik ewe skielik omdat daar soveel mense in ons provinsie is wat siek raak en die virus hier en daar selfs naby ons familie en vriendekring kom. En ons verloor perspektief, die groter prentjie, die langer termyn. En die saad van paniek begin ontkiem . . .

Daar is inderdaad slegte nuus. Die stygende infeksiekoers en sterfgevalle plaas ontsaglike druk op hospitale en gesondheidspersoneel.

Dit word nou al hoe duideliker dat, ten spyte van die tyd wat tydens vlak 5 en 4 gewen is, die regering nie genoeg gedoen het om die gesondheidstelsel voor te berei vir hierdie toeloop van pasiënte nie.

Die feit dat die gesondheidstelsel reeds voor die pandemie haglik was (met die gewone swak bestuur, gevolge van kaderontplooiing, rasse-transformasie en toe-eiening) het ook nie gehelp nie. Daarby word armoede groter en lyding en hongersnood onder minder gegoede Suid-Afrikaners steeds erger.

Die slegte nuus dat die ekonomie in die eerste kwartaal van 2020 met 2% ingekrimp het, word erger as ’n mens onthou dat dit net weerspieël wat vóór die inperking van ekonomiese aktiwiteit gebeur het. ’n Moontlike verdere inkrimping van 7% tot 10% en groter werkloosheid lê in die tweede kwartaal voor.

Wat kan piek laat afplat?

Teen hierdie somber agtergrond, is die vraag hoe ’n mens die langer-termyn-perspektief en die groter prentjie in gedagte kan hou?

1 Dit is nie moontlik om die piek van enige infeksie vooruit akkuraat te voorspel nie.

Dit kan slegs op grond van sekere (hoogs veranderlike) faktore geprojekteer word. Maar die piek kan slegs gesien word as jy daarby verby is en terugkyk.

Dit veroorsaak dat, al weet ons daar is ’n styging, ons nie weet wanneer ’n daling gaan begin nie. ’n Mens moet dus nie te maklik tot gevolgtrekkings kom oor geprojekteerde pieke en dalings nie.

2 Wat kan die piek van ’n infeksiekoers laat daal? Navorsing toon daar is basies twee maniere. Eerstens kan jy in brandpunt-gemeenskappe die virus isoleer deur dit te laat doodsmoor voordat dit verder versprei. Dit is nie maklik nie, aangesien die ekonomie se relatiewe openheid veroorsaak dat mense heen en weer uit gemeenskappe kan beweeg.

En hospitale het sélf brandpunte geword. Maar met selfdissipline, ’n gesonde afstand en die dra van maskers kan dit wel bereik word. Dit is waarskynlik wat in die Wes-Kaap besig is om te gebeur.

Die tweede faktor is sogenaamde “kudde-immuniteit” – waar ’n kritieke massa mense, simptomaties of asimptomaties, as gevolg van blootstelling aan die virus immuniteit daarteen ontwikkel.

Om ’n persentasie van ’n gemeenskap te hê wat kudde-immuniteit kry, is egter moeilik. Dit hang van baie faktore af, soos ouderdom, onderliggende siektetoestande, en of hulle naby of ver van mekaar woon.

Kenners het al genoem dat 60% van die bevolking besmet sal moet word voordat daar kudde-immuniteit kan wees.

Dit sal nie maklik in Suid-Afrika gebeur dat 60% van die bevolking aan die virus blootgestel word en immuniteit sal ontwikkel nie, maar dit kan wél in sekere kleiner gemeenskappe gebeur.

Die ander vraag waarmee wetenskaplikes steeds worstel, is of immuniteit teen die virus ’n permanente verskynsel is en of dit net tydelik is. Indien dit net tydelik is, sal kudde-immuniteit nie baie help nie.

3Uit bogenoemde is dit duidelik dat wetenskaplikes nog heeltemal te min oor hierdie spesifieke koronavirus weet.

Baie mense vestig byvoorbeeld hul hoop op die ontwikkeling van ’n doeltreffende entstof.

Daar is inderwaarheid reeds belowende tekens hiervan. Maar ons moet onthou dat die doeltreffendheid van enige entstof op langer termyn getoets sal moet word voordat dit internasionaal vir menslike gebruik versprei sal kan word.

As ’n mens lees wat mediese kenners skryf, lyk dit onwaarskynlik dat so ’n entstof voor Junie 2021 beskikbaar sal wees. En selfs dan sal die doeltreffendheid daarvan oor tyd op werklik geïnfekteerde pasiënte getoets moet word.

Een viroloog se mening is dat ons moet vat wat ons kan kry, maar dat dit nie noodwendig vir almal sal werk nie. En tog sal die meerderheid mense beter daaraan toe wees mét so ’n entstof as daarsonder.

Een sprankie van hoop is dat behandeling mettertyd sal verbeter. ’n Mens moet egter onthou dat die mediese wetenskap selfs vir MIV/vigs, wat al vir dekades met ons is, geen teenmiddel kon ontwikkel nie.

Daar is egter wel behandeling wat werk in die vorm van antiretrovirale middels. Dit kan wees dat dit ook met Covid-19 die geval sal wees.

Ons het geen ander keuse nie

Dit alles beteken dat die uitdagings van die nuwe koronavirus nog vir baie lank met ons gaan wees. As leiers en politici (soos pres. Cyril Ramaphosa) dus sê dat ons sal moet leer om daarmee saam te leef en te werk, is dit op grond van goeie wetenskaplike bewyse.

Net dít noodsaak ons om die langer termyn en die groter prentjie in gedagte te hou, en nie deur die daaglikse mediaberigte en paniek op loop gejaag te word nie.

Ons het geen ander keuse nie as om déúr die pandemie en stygende infeksiekoers te leef en te werk. Dit is die “nuwe normaal”. Ons sal moet doen wat ons almal al baie gehoor het: bly tuis as jy kan, dra ’n masker buite die huis, en handhaaf ’n gesonde afstand.

Politici moenie op loop gaan en links en regs uitsprake maak dat ons moet teruggaan na vlak 5 nie. Ons moet steeds die spantou bewandel tussen die red van menselewens en dié van lewensmiddele – selfs al neem infeksies toe.

Internasionaal word nou aanvaar dat vir die Noordelike Halfrond die somer ’n laer vlak van infeksies kan bring, maar dat dit weer kan vermeerder as die winter naderkom. Dit is ook waar vir Suid-Afrika, maar ons kan eers hoop op ’n effe laer infeksiekoers ná Oktober.

’n Bekende viroloog, prof. Debra Meyer, se opmerking teenoor my is tekenend van die nabye toekoms: Vir die volgende drie jaar is Covid-19 die belangrikste ding waaraan ons kan dink – hoe dit voorkom en behandel kan word, en hoe die sosio-ekonomiese invloed daarvan bestuur kan word.

Dít is die groter prentjie.

Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.