Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít is hoekom gewyde musiek jou oorrompel
Wilhelm Jordaan

Ek het al baie gewonder waarom gewyde musiek ’n mens so kan oorrompel dat jy weerloos is en ’n mengsel van verrukking, verlange en verdriet beleef.

Soos dit die naweek gebeur het in ’n kerkdiens waar die bekende Palissander-kamerkoor deur die sing van ’n Xhosa-lied, “Indodana kankulunkulu” (“Die Here het sy seun geneem wat onder ons gewoon het”), die kerkgebou omskep het in ’n magtige katedraal van uitkringende klank en betekenis.

Neurowetenskaplikes verklaar sulke emosies deur te wys op bepaalde breingebiede se funksies wat ekstase bewerkstellig.

Maar daar ís mos iets meer as net dít. Miskien het dit te doen daarmee dat gewyde musiek, en van die ander kunste, ’n bewussyn van dubbelhartigheid aan ons besorg: dat ons by die kruis kniel én teen die hemel skel; geloof bely én in ongeloof versink; opgaan in die grootse én die geringe bedink; week van hart is én vernietigend hardvogtig; dat ons na die lig verlang én in donkerheid vertoef.

Lank gelede het die filosoof Plato gesê die siel van die wêreld is deur musikale harmonie gekomponeer. Wanneer jy dan gewyde musiek en sang hoor, spreek die skoonheid en harmonie daarvan tot die disharmonie ín jou. Daaruit kom die weemoed en die verlange na heelmaking; dat die verrukking van die oomblik jou sal bybly.

Selfs die ou rakker van ’n rocker Bruce Springsteen maak van tyd tot tyd sulke musiek.

Selfs die ou rakker van ’n rocker Bruce Springsteen maak van tyd tot tyd sulke musiek.

Byvoorbeeld, van oudsher is die lied “When the Saints Go Marching In”, ’n spiritual wat op baie maniere verfonkfaai en opgedollie word, by raserige sportgeleenthede, in rokerige kroeë en deur studerende lawaaimakers op kampusse gesing.

Springsteen, sy singende vrou en ’n swart sanger het by geleentheid die lied se oorspronklike toonaard herskep – dié van verlange om plek te hê in ’n “nuwe wêreld”, in die weefsel ’n onpeilbare, uitdyende kosmos: “To be in that number when the saints go marching in . . .”

In die middel van die skildery staan die apostel Petrus in die stilte van trane.

Ander kunste doen ook wat gewyde musiek doen, byvoorbeeld in El Greco se skildery Die trane van Petrus, wat ek lank gelede in Greco se huismuseum in Toledo, Spanje, gesien het.

In die middel van die skildery staan die apostel Petrus in die stilte van trane – trane oor die dood van sy geliefde meester én sy trane oor sy eie verraad.

Die samestelling van die skildery lei jou oë van ’n oorheersend donker en somber deel na Petrus se betraande oë wat, in lig gebaai, met eerbied boontoe kyk na ’n onsigbare God wat iewers in die êrens is.

Om daarmee te sê: In die mens Petrus, soos in elkeen van ons, sluit donker en lig mekaar nie uit nie; word donker ’n voorwaarde om die heimwee en verlange na lig te begryp.

En só word harmonie die immer skuiwende ewewig tussen donker en lig.

  • Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Gewyde Musiek  |  Oorrompel  |  Herinneringe  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.