Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít is hoekom Koos so graag ook ’n ID soek

Die Vrydagmiddag kom staan Lettie in my werkkamer se deur met haar selfoon, ’n palmgrootte Nokiatjie, in die hand. “Home Affairs sê Koos se ID het gekom, Ouboet.”

Dana Snyman

Sy en wys die SMS op die dowwe skermpie: “J. Makhondwane. Identity document ready for collection. Ref no: 185-289-778-89.”

“Ek is bly, Lettie,” sê ek. “Ons kan dit môre gaan haal.”

“Home Affairs is môre toe, Ouboet”

“Dan gaan ons Maandag.”

“Netnou raak die ID weg oor die naweek.”

“Nonsens. Hy sal nie wegraak nie.”

“Koos is kwaai oor daai ID, Ouboet. Hy soek hom.”

In die badkamer spuit die stort se krane reeds. Koos is besig om homself reg te maak om Vredenburg toe te gaan, ons naaste groot dorp. Lettie gaan trek die blou-en-wit kolletjiesrok aan wat sy altyd dorp toe dra.

Koos vat die boekie en kyk daarna asof dit ’n spieël is wat sy beeld volmaak na hom terugkaats.

Koos is Lettie en Johannes se seun en hulle woon by my op Jacobsbaai. Koos is in die Caritas-skool vir kinders met spesiale leerbehoeftes op Vredenburg – Koos wat nog stokkiemannetjies teken en ’n bietjie te hard praat wanneer hy praat.

Ons drie ry die helder middag in, verby die Weskus Mall, na die departement binnelandse sake se kantoor op Vredenburg.

By die toonbank is net een amptenaar, ’n jong vrou. Ons wag. Teen die muur agter haar hang ’n foto van pres. Cyril Ramaphosa. Ek kyk na ons president en wil-wil vir hom kwaad wees, maar dit asof die vriendelike, jong vrou agter die toonbank dit moeiliker maak om vir hom kwaad te wees. Dan is Lettie en Koos voor in die ry. Lettie teken langs Koos se naam in ’n boek.

Die jong vrou gee die nuwe, groen boekie vir Koos. Koos vat die boekie en kyk daarna asof dit ’n spieël is wat sy beeld volmaak na hom terugkaats. Eers dan blaai hy dit oop en bekyk na die lettertjies en syfertjies en die foto aan die binnekant. Hy is nie nou sommer net meer Jabulani Makhondwane, alias Koos, nie. Hy het nou sy nommer: Hy is nou ’n Suid-Afrikaner, ’n burger van die Republiek van Suid-Afrika, ’n landsburger tussen ander landsburgers. Hy is nou een van ons. Hy glimlag en druk die boekie in sy broek se agtersak.

By die Twisfontein Kafee koop ek vir ons elkeen ’n koeldrank en ’n KitKat, dan ry ons terug huis toe, ons al drie voorin die bakkie. Koos sê iets in Tswana vir Lettie. “Koos vra Ouboet moet vir hom by OK stop.”

“Ag tog, Lettie. Ek wil nog met die honde gaan stap.” Maar hou maar by OK Foods stil. Koos klim uit. Ek en Lettie bly sit.

’n Rukkie later is Koos terug. Ons ry verder. Koos sê weer iets vir Lettie in Tswana. Lettie sê iets terug. Hulle gesels, dan druk Koos sy hand in sy broeksak en haal iets uit terwyl ons verby Oranjevlei se soutpannetjie ry.

“Ai, Ouboet, kyk nou vir Koos.” Lettie wys na die enkele Lotto-kaartjie in Koos se hand. “Koos speel ook nou die Lotto noudat hy sy ID het.”

Meer oor:  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.