Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit is hoekom ouer vroue onsigbaar is

“Niemand sien ons meer raak nie!” kla ouer vroue in die media. Dank vader daarvoor, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Deesdae hoor ek al hoe meer ouer vroue kla dat hulle onsigbaar geword het. Hiermee neem ek aan onsigbaar vir mans. Met die onderliggende boodskap: Ouer vroue is nie meer seksueel aantreklik vir mans nie.

Eers wou ek dit as bog afmaak. Ek voel nie minder seksueel aantreklik nie. (Vetter en ouer ja, maar met baie meer selfvertroue as toe ek jonger was.) Maar het mans my nog raakgesien?

Ek besluit toe om ’n bietjie in winkelsentrums op te let. Die uitslag? Jong mans het my nie juis raakgesien nie, maar hier en daar was ’n loskop enetjie wat in my rigting geloer het – of dalk het ek hom maar net herinner aan sy ma. Mans van my ouderdom het soms in my rigting gekyk, maar as hulle baie aantreklik was, is ek geheel en al geïgnoreer.

Ek was egter beslis op mans ouer as 60 se radar. Dus mans tien jaar ouer as ek.

So, sigbaar is ek wel. Maar is ek minder sigbaar as toe ek jonger was?

’n Paar weke ná my sosiale eksperiment van sigbaarheid vat ek my seun en twee van sy (verskriklike mooi) meisiemaats Canal Walk toe. Hulle is daar om die handtekening van ’n bekende rapper te kry.

En meteens wonder ek: Wanneer laas het ’n man my telefoonnommer gevra – 20, 30 jaar gelede?

Terwyl ons in die ry staan en wag, kom die een ná die ander ou na die twee mooie meisies en val hulle oor hul telefoonnommers lastig.

Die meisies jaag hulle weg soos lastige vlieë. En meteens wonder ek: Wanneer laas het ’n man my telefoonnommer gevra – 20, 30 jaar gelede?

Ek het skielik onthou hoe gereeld mans my lastig geval het toe ek jonk was.

Orals waar ek en my vriendinne geloop het, sou mans by die motors uithang en opmerkings skrou. Nie altyd vleiend nie, maar sigbaar was ons, en gekyk het die mans gekyk. Toe ek in my 20’s alleen in ’n sentrum geloop het, was dit niks vreemds as ’n man jou voorgekeer en jou vir koffie genooi het nie.

erla-mari diedericks

In ’n kroeg was daar altyd mans wat sou drankies stuur. Of briefies met hul nommers of komplimente. En in die strate was daar die kyke, die tongklappe en die wolwefluite.

Maar hier is die ding: Ek het elke oomblik daarvan gehaat.

Dalk was dit die rede waarom ek nie agtergekom het dat ek onsigbaar raak nie. Want glo my, sigbaarheid maak jou nie meer begeerlik nie, dit maak bloot van jou ’n teiken.

’n Teiken vir mans wat jag. Ek onthou hoe ek soms bang gevoel het, ontbloot en kwesbaar.

Want die manlike blik, oftewel the male gaze, is nie altyd ’n vriendelike, vleiende blik nie. Dit kan jou stroop van jou klere, jou menswaardigheid en selfs jou veiligheid.

En dis waarom ek my onsigbaarheid geniet. Want saam met onsigbaarheid kom vryheid. En dit is steeds nie alle vroue beskore nie.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Skoonheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.