Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít is mos hoe ’n mens die fietstoer ordentlik doen
Tony Weaver

Ek is gek na die Kaapstad-fietstoer. Die gegons, die opwinding. Om knaend windguru.com se voorspellings te bly raadpleeg vir waarskuwings oor windkartetse langs die pad. Al die vreemde nommerplate in die omgewing voor die groot dag.

Die vroegoggend-oefenritte. Die lang rye fietsryers wat heuwels op kraakvars naweekoggende klim. Die angstige gesprekke oor die tegniese dele en waar om versigtig te wees omdat die suidooster jou daar kan platklap – die onderste deel van Ocean View, die klowe op Chapmanspiek, die skelm dwarswinde tussen Llandudno en Bantrybaai.

Die angs oor die heuwels wat harte breek: Die gevreesde afdraande wat na Hospitaaldraai lei waar onervare ryers van koers gaan en die fiets onbeheerbaar en met rampspoedige gevolge begin wikkel, Wynbergheuwel met sy opdraande wat spiere vreet. Millerspunt tot by Smitswinkelbaai. Chapmanspiek. Suikerbossie.

My eerste fiets, toe ek nog ’n laaitie was, was ’n gewone ou Raleigh. Ons het elke dag van ons huis na die Laerskool Somerset-Wes en terug gery. Die pad skool toe was een lang afdraand al met Dramastraat langs. Terug huis toe was egter ’n perd van ’n ander kleur wanneer jy die opdraande moes uitswoeg – sonder enige ratte. Hoe het ons nie ons vriende met die driespoed-fietse beny nie.

Ná skool sou ons oral heen fietsry – met die pad af om by maats te kuier, in Lourensfordweg langs met ons forelstokke om in die Lourensrivier by Lourensford te hengel, of om met die fietse deur ’n nabygeleë bos te bokspring waar ’n dronkie ons so af en toe met klippe sou gooi.

Daarna sou ek 30 jaar lank, tot in die laat jare 80, nie weer fietsry nie.

Daarna sou ek 30 jaar lank, tot in die laat jare 80, nie weer fietsry nie. Ons het toe Bridgestone-bergfietse – wat destyds een van die voorste name was – gekoop. Die fietse poer nog steeds lekker aan, al weeg een dieselfde as vier moderne fietse.

Ons het Kaappunt toe gemik, waar ons geparkeer en onsself weer met ’n gemaklike rit na Olifantsbos ingelyf het. Dit was opwindend, met die wind wat deur ons hare geruis het soos ons voortgeswiep het. Dis mos kinderspeletjies, het ons gedink.

Toe ons die pad terug huis toe vat, het ons ’n sleutelaspek oor die geografie van die Kaap van Goeie Hoop-reservaat ontdek: Daardie lekker rit af na Olifantsbos is eintlik ’n baie gemaklike, baie lang afdraande. Om weer by die hoofpad uit te kom is ’n louter marteling, veral as die suidooster opsteek en reg van voor af kom.

Ons bene was heeltemal poegaai en ons sitvlakke ook.

Ons bene was heeltemal poegaai en ons sitvlakke ook. Ons het nog ’n basiese beginsel van fietsry ontdek: Daai obsene lycra-spanbroekies het ’n bestaansreg. Die seemsleer aan die binnekant keer dat jy skaaf. Jeans word gou suiwer skuurpapier, selfs ná ’n kalm rit.

Een oggend het ons ’n luilekker rit Scarborough toe en terug via Soetwater aangepak. By die Kom het ons teruggedraai Kommetjie toe en ek het na my vrou geroep om links by Buitekom te draai om te kyk hoe die branders lyk, maar sy kon nog nooit links van regs onderskei nie en ry in my vas. Ons het neergeploeg op die teerpad en die skraapmerke het eers weke later genees.

Hierdie Sondag het ons weer die pad gevat na die beginpunt van die fietstoer. Die opgewondenheid was tasbaar. Ek het my vrou, wat haar vyfde “Argus” gedoen het, gegroet en, soos gebruiklik, teruggeskiet huis toe vir my tweede koppie koffie. Ek is gek oor die fietstoer.

Meer oor:  Tony Weaver  |  Fietsry  |  Fietstoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.