Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit is óns wat Grondwet faal

Verlede jaar was die 20ste herdenking van ons Grondwet. Ter viering hiervan het die amptelike tydskrif van die SA Vereniging van Politieke Studies, Politikon, ’n spesiale uitgawe gepubliseer. In die inleiding word die vraag gevra of ons in ’n grondwetlike krisis verkeer.

Gemeet aan vier kriteria wat Ginsburg en Huq voorstel oor wat ’n grondwet behoort te doen, kan ons besluit of ons ’n grondwetlike krisis verkeer: Die grondwet moet legitimiteit vir die staat skep. Dit beteken dat die burgers die heersende regering en die politieke orde moet aanvaar. Die grondwet bepaal die politieke reëls.

As groot getalle burgers die bestaande orde verwerp, word dit al hoe moeiliker om te regeer en die regering raak wanfunk­sioneel. Geweld mag benodig word om samewerking van die burgers te verseker.

Legitimiteit is die aanvaarding van die burgers dat die staat tot voordeel van elkeen optree.) Die grondwet kanaliseer konflik deur formele instellings, eerder as deur geweld.

Sterk politieke instellings verminder die risiko van die impak van interne struwelinge en faksies. ’n Goed ontwerpte grondwet reguleer die koste van politieke konflik deur politieke leiers te dwing om by die reëls te hou en dit beperk die misbruik van mag.) Dit beperk die agentskapkostes van die regering. Agentskapkostes hou verband met leiers wat weier om die mag prys te gee.

’n Goeie grondwet beperk die moontlikheid van korrupsie en verhoed politici om hul posisies vir hul persoonlike voordeel te gebruik.) Dit help om nasionale openbare welsyn te skep.

Grondwette skep omstandighede waardeur die beter materiële toestande vir alle burgers geskep kan word. Dit behoort ’n regulatoriese omgewing te skep waardeur almal ’n beter lewe kan lei. Maatskaplike welsyn en sekerheid behoort twee prioriteite te wees.

Ons grondwet voldoen aan hierdie vereistes. Dit is geskryf om legitimiteit te verseker, om kleiner partye insprake te gee in beleidsuitsette, om deelnemende demokrasie te verseker en om oorsig oor die regering deur hoofstuk 9-instellings te verseker.

Ons het gesien hoe oorsig gedoen kan word – die openbare beskermer in die persoon van adv. Thuli Madonsela het dit vir ons gewys.

Geen grondwet is egter bestand teen staatskaping nie. Wat die afgelope twee weke vir ons gewys het, is die omvang van staatskaping. Daar is geen instelling wat hierdie kaping vrygespring het nie.

Geen grondwet is egter bestand teen staatskaping nie.

Die instellings wat konflik moet reguleer, kan dit nie doen nie, omdat hulle verantwoording aan die president moet doen (wat nou alle mag in sy kantoor gaan sentreer om radikale ekonomiese transformasie te verseker – eintlik om die tesourie te kaap). Instellings is uitgehol deur die parasitiese patronaatstelsels wat deur die Zuma-regering tot eie voordeel ingestel is.

Dit is duidelik dat die politici in die Zuma-faksie nie bereid is om mag prys te gee nie, al beteken dit dat hulle Suid-Afrika verder moet vernietig.

Die geweld het reeds begin as ons die politieke sluipmoorde op plaaslike leiers in KwaZulu-Natal as ’n maatstaf neem. Politieke vertroue en legitimiteit is op die laagste punt nóg, en dienslewering ontbreek.

Verlede week het Zuma voor ’n byna leë parlement oor die presidensie se begroting gepraat – die opposisie was afwesig en die ANC-banke was ook baie leeg. Daar is geen groter aanduiding van ’n grondwetlike krisis as ’n president wat deur sy eie party geboikot word nie.

Dit is nie die Grondwet wat ons gefaal het nie. Dit is óns wat die Grondwet faal.

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Grondwet  |  Suid-Afrika  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.