Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit is tyd dat ons leiers Cicero lees
Prof. Hennie van Coller

Wanneer ’n mens terugkyk na die afgelope dekade of wat in Suid-Afrika verval jy maklik in ’n depressiewe toestand. Leuens, selfsug, korrupsie en selfverryking was immers aan die orde van die dag.

Dalk het dit tyd geword om te gaan kers opsteek by van die antieke denkers, soos Cicero. Sy De officiiis word beskou as sy filosofiese testament en is geskryf in die vorm van ’n lang brief aan sy seun net ná Julius Caesar se dood en kwalik ’n jaar voordat hy self gesterf het in ’n sluipmoord.

Cicero se klassieke teks het onlangs in ’n Nederlandse vertaling verskyn onder die titel Fatsoen, of in my Afrikaanse vertaling “Ordentlikheid”. Waaroor Cicero besin, is hoe ons as gewone burgers én politici ons behoort te gedra en wat die kenmerke is van ’n goeie, nuttige en fatsoenlike lewe.

In hierdie driedelige werk onderskei Cicero vier pilare wat vandag nog geldig is. ’n Nuuskierige mens is ’n goeie mens as dit gaan oor die soeke na waarheid en kennis wat ’n menselewe betekenis gee én nuttig is vir die staat.

Tweedens is sosiale verhoudings vir hom belangrik. Daarin speel onbaatsugtigheid ’n belangrike rol; dit is die regver-dige en vrygewige mens wat geluk ervaar. Waar vrees en hebsug gedy, wyk geluk.

Standvastigheid is die derde pilaar. Dit moet nooit gaan om eie eer nie en passies soos begeerte, plesier en droefheid moet soos oorbodige kledingstukke weggegooi word. En dan laastens dekorum, wat beteken om altyd op ’n gepaste wyse op te tree.

Cicero se boek berus in ’n hoë mate op die Stoïsynse opvattings wat vandag nog in allerlei vorme na vore tree. Die Stoïsyne het geglo dat hoewel alles al bepaal is, het die mens die vryheid om sy eie reaksie daarop te bepaal. Die onverstoorbare en serene wyse waarop jy byvoorbeeld teenslae hanteer, bepaal ook jou geluk.

'n Nuuskierige mens is ’n goeie mens as dit gaan oor die soeke na waarheid en kennis.

Boeke waarin hierdie opvattings op populêre wyse gestel word, staan teenswoordig winkel-rakke vol en word tot vervelens toe gebruik in kursusse in die werkplek, veral die opvatting dat jy vrede moet hê met dinge wat jy nie kan beheer nie.

As jy by Cicero lees dat ’n regverdige oorlog slegs een doel het, naamlik durende vrede en jy hoor hierdie selfde woorde in Donald Trump se verweer oor die dood van genl.maj. Kassem Soleimani in Iran, wonder jy onwillekeurig of Donald Trump dalk snags Cicero bed toe neem.

Cicero skryf dat die drang na selfverryking die slegste eienskap is waaroor politieke leiers sou kon beskik, omdat dit misdadig en gewetenloos is. ’n Leier moet gelief eerder as gevrees wees, alle mense is gelyk voor die reg en uitgawes op etes en feeste is verkwisting.

Dalk het dit tyd geword dat alle Suid-Afrikaanse leiers (veral die in die Vrystaat) Cicero as geskenk ontvang.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Politiek  |  Leiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.