Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit is tyd om die land se onderwys weer heel te maak
Foto:

Wyle oudpres. Nelson Mandela het gesê onderwys is die magtigste wapen om die wêreld te verander.

Dié woorde is weer op 11 Februarie by die bekendmaking van ’n internasionale verslag oor ons onderwysstelsel, getiteld “Broken and Unequal: The State of Educa­tion in South Africa”, aangehaal. Die datum herdenk die 30 jaar sedert Mandela vrygelaat is, maar daar was en is egter min om te vier.

Die verslag is die gevolg van navorsing in landelike én stedelike geen-skoolfonds-skole in Gauteng en die Oos- en die Wes-Kaap tussen November 2017 en Junie 2019, met die fokus op die gehalte van onderwys in arm gemeenskappe. Data is ook verkry uit die media, internasionale en nasionale nieregeringsorganisasies, menseregteorganisasies, akademici, die Verenigde Nasies en regeringsdokumente oor onderwysbesteding en -uitkomste.

Die herorganisering van Suid-Afrika se ras-gefragmenteerde onderwysstelsel (voor 1994 was daar vyf departemente van onderwys) was een van die eerste take wat die nuwe regering moes aanpak. Die verslag erken dat goeie vordering sedertdien gemaak is, maar dit het nie oral tot gehalte-onderwys gelei nie. Jammerlik soos dit is, word ons onderwysstelsel steeds gekenmerk deur rasseskeiding en is gehalte-onderwys meestal tot voorma­lige model-C-skole beperk. Daar is enkele uitsonderings, maar dat Suid-Afrika die ongelykste land ter wêreld is, is nêrens meer opsigtelik as in ons onderwysstelsel nie.

Een van die deelnemers aan die bespreking op 11 Februarie het vertel hoe sy ’n handboek met sewe ander leerlinge moes deel.

Die gebrek aan hulpbronne weerspieël die ongelykheid tussen skole. Een van die deelnemers aan die bespreking op 11 Februarie het vertel hoe sy ’n handboek met sewe ander leerlinge moes deel. Dit maak basiese onderwys soos huiswerk en leer vir eksamens onmoontlik.

Altesaam 239 skole het geen elektrisiteit nie en 86% van skole het geen laboratorium nie. Dit plaas die vierde nywerheidsrevolusie buite hul bereik. En ondervinding leer dat byna alle arm skole oorvol is.

Meer as 700 000 leerlinge moet daagliks lang afstande stap, terwyl sommige riviere moet oorsteek. Leerlinge word aangerand, ander verkrag en selfs vermoor op pad skool toe. Luidens die verslag is daar nog onwettige put­toilette by 19%, oftewel 2 703 skole, en 37 skole het geen sanitêre geriewe nie.

In die Oos-Kaap is modderskole steeds in gebruik, en in Limpopo is sommige klasse onder ’n boom. Die afwesigheid van onderwysers is deur leerlinge as een van die vernaamste struikelblokke in hul strewe na sukses uitgewys. Die verslag kom gevolglik tot die slotsom dat die onderwysstelsel jong mense in die steek laat.

Onderwys gaan steeds mank aan gebrekkige prestasie en skreiende ongelykhede, wat enersyds gewortel is in apartheid en andersyds omdat die huidige regering met Projek Onderwys misluk het. Dit ten spyte daarvan dat onderwys die grootste hap uit die begroting kry. Soortgelyke lande as ons behaal meer sukses met minder geld.

Dié probleme is meer as net pligsversuim. Dit getuig van onbevoegdheid en swak beplanning deur regeringsamptenare en politici wat duisende kinders van ’n toekoms beroof. Ons het geen keuse as om te help nie. Gewone landsburgers moet inspring om onderwys weer heel te maak – die regering gaan dit nie vir ons doen nie.

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy sal voortaan elke twee weke in dié ruimte oor onderwyssake skryf.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Onderwys  |  Onderrig  |  Hulpbronne  |  Ongelykheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.