Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit is vroue wat Afrikaans as kind grootgemaak het

Dit is nie toeval nie dat Vrouedag en Afrikaans se geboortedag albei in Augustus gevier word nie, skryf Cornelia de Kock.

Rykie van ReenenFoto: DIE BURGER-ARGIEF

Dapper vroue het die datum 9 Augustus 1956 in die geskiedenisboeke aangeteken. Dit was mans wat op 14 Augustus 1875 geboorte aan Afrikaans geskenk het, maar tot ’n groot mate was dit vroue wat hierdie kind grootgemaak het.

Elisabeth Eybers het die diepste gevoelens van ma-wees oor alle tyd en grense heen weergegee:

Hoe veilig en stil is my kindjie se slaap,

die tastende handjies so vreedsaam gevou,

die soekende mondjie geslote en soet,

die ogies ’n skemering van blank en blou.

Wat sal haar moeder nou vir haar bid

waar sy slaap in haar wiegie, so warm en wit?

Wanneer Audrey Blignault haar kinders en kleinkinders sien vertrek, verwoord sy die universele afskeidspyn van elke weduwee-ouma:

Die motor ry by die poort uit, draai op in die grootpad en verdwyn om die hoek waar die steilte na Kloofnek begin. Hulle is weg. En hier staan ek alleen met die see voor my en die dennebome en die verdorde grasperk onder die graatwit oggendson.

Oral is daar oorblyfsels van hul kuier by my, wat nou weer weggesit moet word totdat hul weer kom.

Oor ’n jaar. ’n Lang tyd. ’n Asvaal pad deur ’n droogtewêreld waarvan ek die einde nie kan sien nie.

’n Tienerdogter se innerlike worstelinge word deur Antjie Krog in ’n brief aan haar ma uitgespel:

Ma, ek skryf vir jou ’n gedig

sonder fênsie leestekens

sonder woorde wat rym

sonder bywoorde

net sommer ’n kaalvoetgedig-

ek is so jammer mamma

dat ek nie is

wat ek graag vir jou wil wees

nie

Die doyenne van Afrikaanse vroue-joernaliste, Rykie van Reenen, moes ’n man se plek inneem as skryfster van die Van Alle Kante-rubrieke in Die Burger. Dit was boonop die plek wat een van die vaders van Afrikaans, C.J. Langenhoven, lank beklee het.

Wanneer die Kaapse weer en dokter ter sprake kom, kan niemand dit beter beskryf as juis Van Reenen nie:

Ons wil nie sê dat hierdie goddelike winterson-dae wat die ou Kaap aan ons voorsit, ál lekker weer is wat bestaan nie. Verre daarvandaan, want lekker weer is tog maar elke weer – as die hart net daarna klop!

Die kla-besie, weet ons, sal nog een troefkaart hê: wat, sal hy wil weet, van die suidoos?

. . . wat op aarde makeer die ou suidosie? So ’n aardige ou windjie tog! Kyk hoe mooi laat hy ons berg se tafellaken bo hom uitbol. En watter sports maak hy nie alles in die stad nie!

Hy vat die hele dorp op horings, hy joeg die papiere almal see in, die rokke oor die kop, en statigheid van ’n kant af na die maan. Hy is die uit-die-handste, sonder-endste karnallie van ’n wind wat ons het.

Daar kom dae wat onvergelyklik is. Hulle is die dae wat die winter nou, so hier enetjie, dáár enetjie goedgunstiglik vir ons gun.

Dit is die winterson-dae van die Kaap. Dis die stil, helder dae tussen die storms en die yskoue wat soos goue druppels tussen ons val. Dit is dae wat die gode jaloers maak.

Met ’n weergalose kinderrympie betree Ingrid Jonker die kind se fantasiewêreld:

Die kabouter met die rooi-rooi pet,

die kabouter met die geel hemp aan,

het sy hart gisteraand vir my gegee

en sy hemp is vir die maan.

Die kabouter met die rooi-rooi hart

het dit self vir my gesê

hy’t die aardbol oor sy kop gegooi-

o, dis hier waar die liefde lê.

Ronelda Kamfer speel kort en kragtig klaar met diegene wat Afrikaans eksklusief vir hulself toeëien. Haar visier is veral op patriargale mans gerig:

speel klaar met mites

aan wie Afrikaans behoort

ek eet jul kos

ek bly in julle vaderland

ek drink jul wyn

ek sing julle musiek

en liewe ooms, ek, ja ek vry met julle seuns

Wanneer die Jobstroosters meen “Afrikaans is bankrot”, tree Bibi Slippers nonchalant na vore en skryf die taal vir die jong mense van die 21ste eeu oop:

ek skryf jou af en eindig

ons verhaal met ’n punt

agter jou naam

finaal.

maar dis altyd so met my

as ek my weer kom kry

is daar nog twee punte by

Meer oor:  Kinders  |  Afrikaans  |  Vrouemaand  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.