Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít is wat die dra van maskers aan ons doen
Wilhelm Jordaan

Dis seker nie polities korrek om dit te sê nie, maar ek ontwikkel stadigaan ’n diep wrewel oor maskers – die (ver)mombakkies waarmee ons almal rondsluip.

Ek besef dis ter wille van my naaste en myself, maar dit raak ’n bietjie erg as jy ’n goeie geheue het en met gemak kennisse en vriende kan eien aan die oë, voorkop, hare, postuur en manier van staan en loop. Maar ons is nie almal so nie.

Groet jy hartlik, kyk hulle jou aan of jy Covidbesmet is en gee effens pad, bang vir die afgee. Hiert jou virus! Pluk dan my masker af – kom daar ’n bietjie skaamte op ’n afstand so met die herkenning van die voltooide gesig: “Ekskuus jong, ek het jou nie herken nie.”

So asof ’n mens sonder ken, kakebeen, mond, lippe en neus ’n halfmens is soos die boom daar in die dor Richtersveld wat in die skemer soos ’n mens lyk, maar nie is nie.

Wissel ’n klompie, meestal klaende, woorde en gaan dan voort – die halfgesigte, die verdomde (verdoemde?) vermomdes. Dis wat ons almal geword het . . .

Wat doen maskers aan ons verhoudings? Wel, dit bedek, steek weg en is ’n geval van skyn, nie waar nie?

Wonder ek hoe lank gaan ons so met mekaar verkeer, en of jou persoonlikheid op die duur gaan verander en jy selfbeeldprobleme sal ontwikkel – só dat jy, by wyse van spreke, nie meer die vrymoedigheid het om jou gesig te wys nie.

En ek het angs daaroor, want maskers skrik my af, al het ’n bekende sielkundige op ’n keer met postmodernistiese stelligheid geskryf: “The healthy, hap-py human being wears many masks.” Wat seg die man tog? Mense met karakter dra ’n mas-ker!

Wat doen maskers aan ons verhoudings? Wel, dit bedek, steek weg en is ’n geval van skyn, nie waar nie?

Twee indrukke daaroor wil my nie los nie. Een is dié van ’n klein marmerbeeldjie, getiteld Vertroue, deur ’n Japanse kunstenaar waarvan ek die naam vergeet het: ’n Ma kyk vorentoe. Langs haar staan ’n klein kindjie wat met armpies omhoog na haar uitreik, maar die ma hou ’n masker van haar gesig na die kind uit . . .

Die ander is ’n skildery deur Pablo Sanchez getitel Via Crucis (Die Kruisweg): Jesus dra swaar aan sy kruis, sy gesig skaars sigbaar onder die hout. Daar is mense wat hom help dra.

Maar daar is ook ander. Hulle kyk op ’n afstand toe en almal dra ’n masker met grynslaggende, vyandige, traak-my-nie-agtige “gesigte” – bal ook die vuis en wys met die vinger.

Gestroop van dogmatiese godsdienstige betekenisse, vertel die skildery iets van onverskilligheid oor die lot en lyding van ’n ander; die lafhartige skuil agter jou onherkenbaarheid.

Waar neem die Covid-maskerade ons heen? Neem ons algaande afskeid van menswees, van dit wat ons behoort te wees? As dit is, rou ek nou al oor die dor halfmense wat ons gaan word. Soos in die liedjie “Ou sontjie sak mos weg”, toe Randall Wicomb dit gesing het:

“Die kelkie sonder voet / O, die kelkie sonder voet / Toe lag ek oor my lippe / Maar ek huil in my gemoed . . .”

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Menslikheid  |  Koronavirus  |  Maskers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.