Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Dít kan ná 2019 gebeur
Max du Preez

Die meeste van ons is so vasgevang in die drama om die ANC se leierskapstryd dat ons nie genoeg besin oor wat ná Desember se leiersverkiesing en die algemene verkiesing in 2019 vir ons voorlê nie.

Dit is nou as die Desember-verkiesing wel gaan plaasvind, of, as dit plaasvind, dit deur geweld en/of regsgedinge ongedaan gemaak gaan word.

Die naweek se geweld by die Oos-Kaapse ANC-konferensie en die regsgedinge in minstens vier provinsies voorspel onheil.

Ons kan in dié stadium aanvaar daar is net vier kandidate wat ’n realistiese kans het om in Desember ’n rol te speel: Cyril Rama­phosa, Nkosazana Dlamini-Zuma, Zweli Mkhize en Lindiwe Sisulu.

Ramaphosa en Dlamini-Zuma is die voorperde, maar Mkhize kan dalk as versoeningskandidaat dié twee verbysteek, terwyl Sisulu ’n bepalende rol kan speel as sy besluit om eerder by Ramaphosa of Mkhize se kieslyste as adjunkpresident aan te sluit.

Ramaphosa is volgens alle aanduidings die voorloper op die oomblik, maar as die gekonkel met lede en takke nie gestuit kan word nie, beteken dit eintlik nie veel nie.

Maar watter impak gaan die verskillende kandidate hê as hulle suksesvol is?

Wie ook al in Desember gaan seëvier, gaan hom/haar bekommer oor die ANC se kanse in 2019.

Dlamini-Zuma is die enigste kandidaat uit die Zuma-Gupta-kamp. Alles wat sy tot dusver gesê het, dui daarop dat sy ’n meer sosialistiese bestel wil sien – die nasionalisering van grond en van die Reserwebank en ’n radikale transformasie of herverdeling van eienaarskap, strukture en instellings.

Sy is nooit juis as ’n radikaal gesien nie, maar sy het vooraf besluit haar beste kans op sukses is om by die ­Zuma-kamp aan te sluit.

Soos ons nou al gesien het, bestaan haar juigkommando uit die ANC se jeug- en vroue­liga, die premiers van die Vrystaat, Noordwes en Limpopo, die Umkhonto weSizwe-veterane, die Gupta-media en die Black First Land First-bende (BLF) van Andile Mngxitama. Aanduidings is dat sy geldelik deur van Zuma se staatskaper-vennote gesteun word.

Selfs al sou sy deeglik die waansin van na­sionalisering en radikale herverdeling insien, sou sy dit bra onmoontlik vind om teen die grein van haar ondersteunersgroep in te gaan en van die korruptes ontslae te raak.

Anders as Dlamini-Zuma, agiteer ­Ramaphosa, Mkhize en Sisulu luidkeels teen korrupsie en staatskaping en beklemtoon hulle inklusiewe ekonomiese groei en ’n doeltreffende, verantwoordbare staat.

Die nuwe ANC-president sal diep moet sny.

Om dit te kan bereik, sal die nuwe ANC-president diep moet sny. Gupta-lakeie en Zuma-lojaliste in die kabinet – ek tel minstens 11 – sal dadelik in die pad gesteek moet word.

Die rade van byna al die staatsondernemings sal dadelik vervang moet word, so ook die hoofde en topstrukture van die Valke, staatsveiligheid, die SAPD se misdaadintelligensie, die nasionale vervolgingsgesag en die nasionale inkomstediens.

As dié mense in hul poste aanbly, gaan patronaatskap, staatskaping en korrupsie bloot voortduur. Maar as hulle afgedank word, gaan dit ’n helse terugveg ontketen wat die regering (en die ANC) kan verlam.

Wie ook al in Desember gaan seëvier, gaan hom/haar bekommer oor die ANC se kanse in 2019 – peilings dui aan die ANC gaan nie maklik 50% haal nie.

Wie die wenner in Desember gaan wees, gaan ook ’n sterk invloed hê op die keuse van die ANC se alliansievennoot ná 2019.

Die DA gaan nie maklik van sy beginsel van eienaarskap ontslae raak nie, terwyl die EFF reeds ­gesê het hy sal net met die ANC saamwerk as die ANC bereid is om grond sonder vergoeding af te vat.

Of dalk gaan die ANC skeur. Twee jaar is ’n baie lang tyd in die Suid-Afrikaanse politiek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.