Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít kan ons by Nederland leer
Leopold Scholtz

Daar is een tyd in die jaar waarin ek as Suid-Afrikaner jaloers is op die Nederlanders – die week tussen 27 April en 5 Mei.

Op 27 April verjaar koning Willem-Alexander en dan vier die Nederlanders uitbundig fees (Koningsdag). In die omgewing waar ek in die pragtige stadjie Delft woon, hang tientalle landsvlae en die koninklike gesin word tradisioneel êrens in die land onthaal. En oor die hele land is dit kermis.

Op die aand van 4 Mei is die Dodeherdenking. Dan word gedink aan alle Nederlanders wat sedert die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog hul lewe in die oorlog of militêre diens verloor het. Tydens ’n ingehoue plegtigheid op die Dam in Amsterdam, waar die koning ook teenwoordig is, kom die land om agtuur die aand vir twee minute lank tot stilstand. Dan sak ’n diep, eerbiedige stilte oor Nederland neer.

Die volgende dag, 5 Mei, is dit weer fees – Bevrydingsdag. Dan word die beëindiging van die vyf jaar lange nagmerrie van die Duitse besetting (1940-’45) gevier.

Op dié dag word tientalle toesprake, koerantartikels en radio- en televisieprogramme gewy aan die voorreg van vryheid, wat vryheid beteken en hoe dit gekoester moet word.

Moenie ’n fout maak nie: Die Nederlanders is nie ’n eensgesinde nasie nie; hulle is diep verdeeld.

Moenie ’n fout maak nie: Die Nederlanders is nie ’n eensgesinde nasie nie; hulle is diep verdeeld. Ek maak altyd dié grappie: Sit twee Nederlanders bymekaar, en binne ’n uur het jy drie politieke partye en vier kerke.

Met dié dat immigrante meer selfversekerd word, kry die verdeeldheid die laaste jare ook etniese trekke, al moet dié waarneming nie oordryf word nie.

Die steeds feller wordende debat oor Zwarte Piet – Sinterklaas se swart helper – is ’n teken daarvan. Talle swart Nederlanders (meestal afkomstig uit Suriname en die Antille) maak daarteen beswaar dat ’n wit man swart geverf en as ondergeskikte van die wit Sinterklaas voorgestel word.

(Ofskoon bygesê moet word, heelparty swart mense het nie ’n probleem daarmee nie, en talle polities korrekte wit mense juis weer wel.)

’n Linkse wou gedurende die twee minute stilte georganiseerd lawaai maak.

Vanjaar was daar ook ’n effense wanklank met die Dodeherdenking. ’n Linkse wou gedurende die twee minute stilte georganiseerd lawaai maak: Wat van die duisende Indonesiërs wat die Nederlandse weermag in dié land se bevrydingsoorlog (1945-’49) vermoor het?

’n Regter het dié protes vinnig verbied. Tydens die plegtigheid kon ’n enkele kreet uit die skare gehoor word, maar die polisie het die man se tjank onmiddellik afgetrap en hom hardhandig, maar stil verwyder.

Die punt is dat die Nederlanders in dié tyd van die jaar, ondanks alles wat hulle verdeel, juis hul eenheid vier. Dan merk jy tasbaar hoe verknog hulle aan hul land en hul oorkoepelende identiteit is.

Dis dít wat my as Suid-Afrikaner jaloers maak. Want daardie soort eenheid tref jy nie by ons aan nie. Daar was ’n tyd, onmiddellik ná 1994, dat ons in dié rigting beweeg het. Wie sal ooit die ongelooflike samehorigheid vergeet waarmee ons op 27 April van dié jaar saam in die lang toue gestaan het om te gaan stem? Van die welwillendheid en wellewendheid teenoor mekaar?

Helaas, dit was magsbeluste of ideologies besete politici – van Thabo Mbeki tot Jacob Zuma en Julius Malema – wat die eendragtigheid van dié moment min­agtend in die stof vertrap het. Daardie oomblik is verby, en net ’n wonderwerk kan dit laat terugkeer.

Tog, ons is almal in dieselfde bootjie, en ons moet ’n manier vind om met mekaar saam te leef. Die meeste wat ons kan hoop, is om mekaar se andersheid en identiteit te erken en te gun. Maar dan sal sowel die wit as die swart rassiste hul deuntjie moet verander.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.