Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit kom nou van die kinders wil aanpor
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Was dit in die destydse st. 4-aardrykskundesillabus wat ons al die lande en hul hoofstede uit ons koppe geleer het? Algerië, Algiers; Argentinië, Buenos Aires; Finland, Helsinki; Turkye, Ankara; Zambië, Lusaka.

Zimbabwe was nog Rhodesië (Salisbury), Kroasië (Zagreb) het nog nie bestaan nie, so ook nie al die -stanne wat eens deel was van die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke nie. Birma sou baie later eers Mianmar (Naypyitaw) word. Waar in Afrika Mali (Bamako) presies is, onthou ek steeds nie, en om Slowakye (Bratislava) en Slowenië (Ljubljana) te onderskei verg diepe konsentrasie.

Intussen het ek noodgedwonge die stringe eilande in die Karibiese See leer ken omdat oudste daar gewerk en geswerf het. Met my vinger in die wêreldatlas, as’t ware al in die vaarwater van die bote waarop sy was, was ek altyd so ’n bietjie verbaas dat onder meer Frankryk, Spanje, Brittanje en Nederland steeds koloniale vastrapplekke in daardie soel waters het.

Ek moes die skrik afleer wanneer sy Nicaragua (Managua) of Colombia (Bogotá) toe is op ’n visa run, en my eie onhaalbare reisdrome temper wanneer sy nie saamgestem het dat Paraguay (Asunción) of Chili (Santiago) opwindende bestemmings kan wees nie.

Toe pak jongste haar rugsak vir haar eerste alleenreis Malawi (Lilongwe) toe. Dáár was ek darem toe dit omtrent die enigste plek in Afrika was waar ons bleekvelle toegelaat is. Die warm hart van Afrika, mos, en pres. Banda se edik was vroue moes rokke tot onder hul knieë dra en mans se hare nie ’n sliert langer wees nie as short back and sides.

Sy stuur ’n foto van die gleuf in die Groot Muur in China (Beijing) waar sy tydens ’n lang oorstaantyd vir my ’n briefie loop inskuiwe het om eendag op ’n reëndag te gaan haal.

Die volgende jaar klop my hart in my keel toe jongste sê haar vliegkaartjie vir Viëtnam (Hanoi) is bespreek. Sy stuur ’n foto van die gleuf in die Groot Muur in China (Beijing) waar sy tydens ’n lang oorstaantyd vir my ’n briefie loop inskuiwe het om eendag op ’n reëndag te gaan haal.

Aanstaande week gaan sy weg. Wegger as die vorige kere, en ek zoem met Google Earth in verby Thailand (Bangkok) en Laos (Vientiane) totdat die huisies aan die buitewyke van Seoel, hoofstad van Suid-Korea, buite fokus is en dit verdomp nie nader wil nie.

Ek wonder waarom kan die kinders nie net na gewone lande toe gaan nie: Nederland en Duitsland en Frankryk en al daardie voosgetrapte stede soos Amsterdam, Bonn en Parys, wat my generasie as die toppunt van ons uitvaarte beskou en ons o so vry en onafhanklik laat voel het.

Jy wou mos, sê ek vir myself onder die stort wanneer die sjampoe kamstig my oë brand. Die alewige aanpordery om te loop kyk wat lê anderkant die verste kim, verby Brandfort, Coligny, Sharpeville, Koffiefontein, Stellenbosch, Bosbokrand, Worcester . . .

Suid-Afrika (Pretoria, Kaapstad, Bloemfontein): bloedige, mooiste, wydste, droewigste, hoopvolste, brandende, dansende heimat wat my hart uit my lyf skeur en vastelande ver smyt.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Dogters  |  Reis  |  Lande  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.