Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit sal ’n fout wees om Mmusi te pos
Mmusi Maimane, DA-leier.

Met net 4 LP’s minder – van 89 na 85 – en ’n stemdaling van minder as 2%, moet die DA beslis voel hy word on­billik behandel deur ontleders wat hom op die daad as die “groot verloorder” van die verkiesing brandmerk. En hy kan tereg so voel as hy sy uitslag met byvoorbeeld die ANC s’n vergelyk.

Gegewe alles is die DA se verkiesingsuitslag uiteindelik heel redelik en is sy grootste gevoel sekerlik verligting. As sommige meningspeilings reg was, dat hy net ’n maand voor die verkiesing op laer as die 20%-vlak gelê het, het hy beslis in die pylvak steun teruggewen of onsekeres oorreed.

Die groot teleurstelling egter is sy prestasie in vergelyking met dit wat hy wou en moontlik kon regkry. En nie gewys het dat hy minstens die 30%-vlak aanval nie. Want ’n tweede party oor 30% in die kraal sou die eerste tasbare bewys van ’n komende politieke herskikking wees.

Iewers het die DA se veldtogbeplanners die pot grootliks misgesit.

Iewers het die DA se veldtogbeplanners die pot grootliks misgesit. En hulle het volgens ingeligte raaiskote selfs meer verkiesingsgeld as die ANC gehad – waarskynlik tot R400 miljoen. En hul eerste aankoop daarmee was ’n megagroot buitelugbord met die name van die Life Esidimeni-slagoffers daarop. Regte kwessie. Verkeerde toepassing. En juis in Suid-Afrika waar re­spek vir die dooies een van ons min gemeenskaplike kulturele eienskappe is. Dit was toe die eerste aanduiding in die veldtog dat hulle moontlik in vele opsigte uit voeling met aspekte van die samelewing is – iets wat jy nie in meningspeilings kan lees nie.

Ook die oproepe en SMS’e. So een of twee – puik idee. Tot vervelens toe tientalle maak irritasievlakke van reeds grimmige kiesers hemelhoog. Iemand het daarmee ’n lekker aandeel van die R400 miljoen weg sonder enige resultate. En die hardnekkige, volgehoue aanvalle op Cyril Ramaphosa as hooftema teen die ANC het sommige kiesers laat reken: “As die DA Cyril as die grootste gevaar in die land sien, moet ek liewer vir iemand stem wat die werklike gevare raaksien.”

Nog egosentriese Kaapse manewales was die Patrica de Lille-sage.

Hardste maaghou

Die DA en Mmusi Maimane se hardste maaghou daarteen om die verlangde vordering onder swart kiesers te maak, is al lank voor die verkiesing toegedien. Dít deur Helen Zille se kolonialisme-twiet. Enigiemand wat nie verstaan dat dit erge skade aan swart persepsies oor die DA aangerig het nie, verstaan nie die werklikheid van ons samelewing nie.

Nog egosentriese Kaapse manewales was die Patrica de Lille-sage. Haar besluit om die nes te bevuil toe dit haar grille nie meer pas nie, was erg skadelik. Dit is swak hanteer en die DA se klagstaat teen haar dun. Sy en Zille, as onderskeidelik Kaapse burgemeester en Wes-Kaapse premier, was ook op die toneel toe die kleed afgeruk is van die DA se veel verkondigde rekord van goeie regering en dit blyk nie veel is gedoen om te beplan vir die Kaapse waterkrisis nie.

Die DA het die VF Plus se aanslag op sy Afrikaanse kiesers sien kom. Uit vertroulike gesprekke so vroeg as Januarie het hy laat blyk sy interne peilings dui daarop, veral in die noorde. Maar niks is daaromtrent gedoen nie.

Sy enigste twee sigbare Afrikaanse inisiatiewe was om juffrou Elana Barkhuizen van Noordwes aan te val vir ’n rassis en om Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, kort voor die verkiesing te prys as die beste lid van die Gautengse regering met ’n telling van sewe uit tien. (Solly Msimanga, DA-premierskandidaat, se takel van Lesufi oor Afrikaanse skole in ’n TV-debat later was te min te laat.)

Te veel kokke in kombuis

Met die ANC grootliks teen die toue weens ongekende skandale en swak dienslewering en DA-beheerde metro’s in die noorde wat glad nie te sleg gevaar het in hul eerste twee jaar nie, moes die party baie beter gevaar het.

Alle partye het ’n kollektiewe leierskorps wat gesamentlike besluite neem. Maar oor die finale verkiesingstrategie word bepaalde detailbesluite in ’n klein kringetjie geneem. Dit lyk asof Maimane te veel kokke rondom hom in die kombuis gehad het. Die DA se megabuitelugborde moes blou gewees het, met hul kernboodskap daarop. Dit was die versugting. Maar dan is daar ook die universele middelgrond-posisionering wat in ’n boodskapkrisis verkeer oor presies waarvoor hulle staan of waarvoor nie.

Sentrumparty

Maimane het in reaksie op die uitslag gesê die DA moes bou aan ’n sentrumparty wat alle Suid-Afrikaners verteenwoordig. En het weggebly van rassenasionalisme of populisme. En gaan bly fokus op grondwetlikheid. Daaroor is hy reg en uiteindelik gaan dit al sentrale suksesroete vir die land wees. Geen werklike herskikkings gaan kom met koalisies uit afsplitsings nie. Ons kort die beginselvaste ander groot party en tans is die DA die enigste een op die horison. Om so ’n groot party met uiteenlopende belange te bou is harde werk en gaan nie sonder turbulensie gepaard nie.

Die feit dat die DA nie tot onder die 20%-vlak gedaal het of verder in duie gestort het nie, bied steeds ’n stewige basis vorentoe. Voortgesette binnegevegte oor beleid en leierskap kan die krake egter vergroot. Die party moet terug tekenbord toe en aanhou doen wat hy nog altyd goed gedoen het – sterk opposisie oor die regte kwessies, wanneer nodig hofsake, ja (maar nie oor elke klein dingetjie nie) en die opbou van ’n duidelike bewyslas dat hy vordering maak met dienslewering, iets wat veel verder strek as vullisverwydering en die sny van voorstedelike parkies se gras.

Beroepspolitieke ambisies maak die uitdaging van Maimane se leierskap ’n moontlikheid, maar dit sal ’n fout wees. Hy is nog betreklik kort in die rol en moes die noodwendige gevolge van die party se laaste groeifase hanteer. Baie meer ervare leiers wêreldwyd het al baie slegter as hy daarvan afgekom.

Die afgelope twee jaar se vagevuur sal bydra tot Maimane se ervaring en om die antennas rondom hom fyner in te stel. Hy is geen liggewig nie en kan in die 2021- munisipale verkiesing wys of enige lesse geleer is. .

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.