Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít stook vuur in ons hoofstad
Rapule Tabane

Ons het Woensdag wakker geword met rook wat uit Pretoria se middestad geborrel het. Daar was ook brande in sommige winkels.

Sulke tonele van rook en brande kom veels te gereeld in ons land voor. Verlede week het inwoners van Soweto buitelanders se winkels besteel, kwansuis uit wraak omdat buitelanders glo die polisie in die Johannesburgse middestad met klippe bestook het. ’n Paar dae later het hulle begin kla oor die lang afstande wat hulle na winkels moet stap omdat hul spazawinkels gesluit is.

Dié prentjie pla my om etlike redes. Eerstens omdat sulke voorvalle veels te gereeld plaasvind. In ander lande is betogings in die strate gewoonlik eenmalige gebeurtenisse – nie net in ontwikkelde lande nie, maar ook in ander Afrikalande. Mense word nie wakker en gaan verniel strate, smyt vullisblikke om of vernietig openbare infrastruktuur nie. Wanneer hulle wel (vreedsaam) protesteer, gaan dit gewoonlik oor ’n geïgnoreerde grief wat al lank in die openbare sfeer is. Hier wend ons ons veels te maklik tot geweld.

Dit is waarskynlik die geval weens my tweede punt: ’n gebrek aan vrees dat oortreders vervolg sal word. My eerste vraag met die aanskoue van die lelike tonele in Pretoria was: Waar is die polisie? Die antwoord is dat hulle dáár was en toegekyk het terwyl hulle blykbaar vir versterkings gewag het.

Ons land is te swak om ’n boodskap uit te stuur dat misdadigers gestraf sal word.

Van hulle het met rubberkoeëls na diewe geskiet wat TV-stelle en ander artikels weggedra het, maar geen poging is aangewend om hulle te arresteer nie. Dit sou nie juis vrees vir gevolge vir soortgelyke optrede ingeboesem het by burgers wat landwyd na die tonele gekyk het nie. Ons land is te swak om ’n boodskap uit te stuur dat misdadigers gestraf sal word. Dit is hoekom dieselfde tonele hulle binnekort in ander dele van die land sal afspeel.

Nog ’n rede hoekom dié gedrag herhaal sal word, is dat ons nie die kwessie van buitelanders – spesifiek buitelanders sonder wettige dokumente – na behore aanpak nie. Daar is tekens van dringendheid by die regering te bespeur as daar geweld is, maar so gou dit stil raak, kry jy die idee amptenare wou bloot gesien word dat hulle reageer.

Wat ons kort, is ’n omvattende beleid wat die kwessie pak en nie die indruk wek dat dit xenofobie aanmoedig nie.

Wie kan die toneel vergeet van David Makhura, Gautengse premier, wat saam met groot getalle polisielede in oranje onderbaadjies deur Johannesburg se strate marsjeer en plegtig streng optrede belowe? Ministers het ook enige buitelander gekonfronteer wat hulle in die stad teëgekom het – net betyds vir die kameras.

Wat ons kort, is ’n omvattende beleid wat die kwessie pak en nie die indruk wek dat dit xenofobie aanmoedig nie. Ons bestuur nie ons grense goed nie en laat derduisende buitelanders toe om die land binne te sluip sonder dat ons van hulle rekenskap kan gee. Erger nog het Bheki Cele, die minister van polisie, erken dat van die onwettige immigrante wat gedeporteer word, die land nog dieselfde dag weer binnekom.

Het ons enigsins grense? En grenspolisie?

’n Ander heersende siening is dat buitelanders die land ’n ekonomiese hupstoot besorg wat nie genoeg waardeer word nie en hulle onregverdig vir misdaad geblameer word. Dis waarskynlik waar, maar dis nie wat die talle arm Suid-Afrikaners sien nie. Weens ongelykheid, die trae ekonomie en gevolglike hoë werkloosheid beskou hulle buitelanders as mededingers of selfs as die rede vir hul werkloosheid. Dit is die basiese instink van diegene wat niks het nie en dus na verduidelikings soek.

Daar is nie kitsoplossings vir dié tydbom wat deur wanbestuur vererger word nie. Tensy die regering homself regruk, sal ons herhaaldelik blootgestel word aan tonele van rook en vuur. Dit sal persepsies oor die land vererger.

Tabane is politieke redakteur van City Press.

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Rassehaat  |  Misdaad  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.