Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit sukkel ook op Damplein
André Damons

Die lewe is moeilik en almal sukkel, hoor ek mense dikwels sê. Dis waar, want jy sien die moeilik in die lewe en mense wat sukkel. Selfs in Amsterdam. Nie almal se sukkel is natuurlik dieselfde nie.

Saterdagaand op Damplein luister ek hoe drie straatkunstenaars, van wie twee lede van ’n man-en-vrou-vennootskap is, hulle dag bespreek. Hulle is van kop tot tone getooi soos bronsstandbeelde en “tree op” vir fooitjies op Museumplein op.

Toeriste stroom hierheen en dit is ’n ideale plek vir vermaak.

Die derde persoon, ’n man wie se kostuum uit ’n bangmaakmasker en ’n lang, swart gewaad en stok bestaan, werk op Damplein, wat ook daagliks van die toeriste wemel.

Hierdie mense is dus afhanklik van ander wat ’n geldjie in hul blikke gooi, en boonop moet hulle met ander straatkunstenaars meeding. Hoe meer mense hulle raaksien, hoe beter is die kanse dat hulle munte in die blikkie kry. Soos eiendomsagente altyd sê, dis location, location, location.

Die daglig het reeds lankal gewyk toe die kunstenaars ná die dag se harde werk oppak om huiswaarts te keer. Hulle knoop ’n geselsie aan en praat oor hul werk. Hulle vra mekaar hoe hul dag en sake was, en of hulle darem genoeg (geld) gemaak het.

Bangmaker haal sy masker af en sê in Engels: “Dit was koud vandag, so hier was minder mense. Dit gaan soms moeilik, soos julle weet.” Hulle knik en sê hulle sukkel ook soms.

Bangmaker haal sy masker af en sê in Engels: “Dit was koud vandag, so hier was minder mense.

Terwyl Bronsvrou haar goed in ’n sak op haar fiets laai, sê sy aan Bangmaker: “Miskien moet jy eendag daar by ons kom staan. Ek sal jou wys waar jy kan staan.”

Haar vennoot maak byna dadelik sy misnoeë met ’n ergerlike kopskud duidelik en maak beswaar teen die uitnodiging.

Die lewe is moeilik en almal sukkel. Net diegene wat ook sukkel, sal weet hoe dit voel.

Dit is seker hoekom die vrou haar medemens, wat dit net so moeilik het, probeer help. Sy ken ook sukkel. Maar haar vennoot het dadelik besef hul eie gesukkel kan vererger as hulle hul plek deel.

Hy ken óók daai gesukkel, maar weet nog ’n straatkunstenaar in hul midde kan hul potensiële inkomste aantas.

Almal sukkel hier buite en die lewe is maar moeilik.

Maar was dit dan verkeerd dat die vrou steeds iemand anders wat ook sukkel wou help? Of is dit verkeerd van haar vennoot om die bietjie wat hulle kry te probeer beskerm? In die gesukkel is dit maar elkeen vir homself en God vir almal, sê mense.

Ook Saterdagaand op Damplein.

Meer oor:  Sukkel  |  Menings  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.