Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dit was daar, by daardie kruising . . .
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt
Netwerk24

Dit is winter in die Kaap en die ganse week lê die wolke laag, net soos in die oomblikke terwyl die ystervoël al laer bo die Kaapse Vlakte gesak het.

Ek het nie by die venster uitgekyk nie, maar eerder verder gelees.

Of gemaak asof ek lees, want ek moes drie, vier keer die sin lees waarmee ’n kortverhaal in Riana Scheepers se bundel Die vrou in die vuur begin: “Here God, skrik die sendeling se vrou.”

Dit was die gewone palawa om die huurmotor uit te sorteer en toe ons eindelik in die pad val, was dit nie veel verder nie toe ek aan my hartmens beduie hier, hier naby het dit gebeur, by daardie kruising.

In spitstyd se poerery het ek die kantspieëls dopgehou, nonchalant; terloops na my reisgenoot gekyk met sy hande om die stuurwiel vir enige teken dat selfs hy deur sy gehoorstukke my hartklop sou hoor; my handpalms se sweet teen my broekspype afgevee.

Dit verras my altyd hoe góéd ’n mens se lyf kan onthou, onwillekeurig.

Dit verras my altyd hoe góéd ’n mens se lyf kan onthou, onwillekeurig.

Daardie dag, ’n maand gelede, was dit ook ’n tienerseun. Toe dit gebeur, was daar drie, maar die een met die groen T-hemp sal ek nie vergeet nie. “Draai hier voor regs, dan is ons weer op die regte pad,” het jongste beduie met die selfoon op Google Maps in haar hande.

Ek het die seunskind opgemerk op die sypaadjie en gesien hy sién ons. In eerste rat, reg om onmiddellik weg te trek sodra die verkeerslig na groen oorslaan, maar ek sal wragtig nooit kan uitpluis van waar hulle toe gekom het en waarmee hulle die ruit so flenters gemoker het nie.

Die een met die groen T-hemp se arms was orals, aan’t grype. ’n Ander een het die motordeur se knoppie opgetrek, ek het met my vuis op sy hand die knoppie weer afgeslaan en my kind se kop probeer wegdruk sodat hulle haar nie aan haar mooiste, lang krullebos beetkry nie. Sy het na hulle geklap en ons het soos maer varke geskree.

’n Ander motor het van agter ingewurm tussen ons en die motor langsaan en die drie seuns weggestoot en vir ons geskree om te ry, nóú. Ek onthou die man se wit tande teen sy donker vel, sy groot oop mond. “Rý!”

Hulle het met niks weggekom nie. “Ek’s bly hulle het nie ’n mes gehad nie, Ma.”

Soos wat ’n mens alewig oor iéts moet verheug wees in hierdie land; soos wat ons seker moet bly wees Meghan Cremer se moordenaars is gearresteer – Meghan wat so baie getrek het op ’n niggie se kind met dieselfde naam dat ek naar was met die lees daarvan dat sy vermis word, en toe later . . .

Ek wonder heeltyd wat alles onthou Meghan se ma se lyf. Ek wil huil.

Laasnag het ek die boekmerk ingedruk tussen die bladsye waar daar staan “Jy sal moet opmaak hiervoor, Here, sê die sendeling se vrou” en die bedliggie afgesit.

* Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Vrees  |  Misdaad  |  Geweld  |  Kruising  |  Motor  |  Grypdiefe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.