Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ivor Price: Dit was die jaar voor die 1ste verkiesing

Die eerste wit mens met wie ek gepraat het, het Kirby-stofsuiers by ons huis probeer verkwansel. Dit was in die jaar voor die land se eerste demokratiese verkiesing. Ek was 13.

Hy’t die voordeurklokkie gelui en vir my geglimlag; die soort glimlag wat ek vandag nog “die W.G.” noem. ’n Wit glimlag. Dis daai beleefde tandewys wat jy in die korporatiewe wêreld kry by mense wat nie altyd jou beste belange op die hart dra nie; die koue glimlag van ’n tannie wat saam met jou in die tou by die winkel staan, maar eintlik nie lus is vir die klomp “volksvreemdes” rondom haar nie.

“My ma is nie hier nie,” het ek gejok.

Toe was dit nog vreemd as ’n wit man aan jou deur kom klop het; gewoonlik aanduidend dat jy by die bank of meubelwinkels in die moeilikheid beland het.

Dit was immers ’n wit man wat elke nou en dan met sy bakkie in ons straat stilgehou het om op van ons bure se sitkamerstelle en yskaste beslag te lê.

Die einste man het ’n slag of wat ook by ons huis kom aanmanings aflaai.

Ek kan nie onthou of ek bang was vir die wit man met die stofsuier nie.

My pa het oor my skouer geloer.

“Nee, nee, jy’s welkom,” het hy die verkoopsman binnegenooi.

In my kop was bruin mense altyd die skoonmakers en die rakpakkers.

Die man het sy stofsuier op die sitkamermat neergesit en sonder om te vra die koffietafel eenkant toe geskuif en ’n wit kol skoongesjampoe. Dit was aardig om te kyk hoe hy ’n gedeelte van ons mat skoongemaak het in die hoop dat my ouers sy produk sou koop.

Ons kinders het hom grootoog dopgehou, asof hy ’n marionet was wat spesiaal vir ons ’n vertoning kom lewer het. Dit is ’n beeld wat ek nooit weer uit my kop kon kry nie, en ook nooit weer beleef het nie: ’n wit man wat – al was dit net vir ’n paar minute lank – in óns huis gewerk het.

In my kop was bruin mense altyd die skoonmakers en die rakpakkers. Wanneer die kat op die stoof gesit het, het my ma altyd gedreig om ook iewers by ’n wit mêrrim ’n skroppie te gaan kry. Van my skoolvriende se ma’s het dit in daardie dae vir so min as R30 per dag gedoen – en dan het hulle nog die wit mense se kinders gebad ook voordat hulle saans uitgeval het.

Hoewel ek nie daai aand weer met die vreemde verkoopsman gepraat het nie, het ek lank na hom gestaar. Hy’t bietjie gelyk soos Chris Edwards van Egoli; ’n langerige man wat met gesag gepraat het.

Dit het my opgeval dat my ouers hom so gemoedelik ontvang het, hoewel hulle sekerlik goed moes geweet het dat hulle nooit so ’n duur stofsuier sou kon bekostig nie. Hulle het baie geduldig na sy stories geluister.

“Miskien ’n volgende keer,” het my pa verskoning gevra.

“Dankie, Meneer,” het my ma gesê.

Die man is met leë hande huis toe sonder om te groet.

Meer oor:  Menings  |  Witmens  |  Klassisme  |  Rassisme  |  Stofsuier  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.