‘I wasn’t there that morning / When my father passed away / I didn’t get to tell him / All the things I had to say.” – “The Living Years”, Mike and the Mechanics.
Dit is ’n wintersoggend in die Noord-Kaap in Junie 1969. Die hond se drinkwater het gevries. Die ysstalaktiete uit die kraan langs die skelrooi ranonkels is amper wreedmooi toe die man gereed maak om te gaan werk. Hy sou die swaar stoomlokomotief laat rookpluime skets teen die koue oggendlug. Verby Jan Kempdorp, Hartswater, Vryburg en Pudumu.
Laasnag het die kind tot laat gelees. Die wol en breipenne op die bedkassie onaangeraak. Woorde is die ding wat haar betower.
“Kinders se hande moet besig bly gedurende die vakansie,” het haar ma die vorige dag gesê toe sy die bolle wol op die twee sussies se beddens neergesit het.

Aniki Joseph
Die reuk van koffie en die gedempte grootmensstemme in die kombuis het haar wakker gemaak.
Sy vou die winterjapon snoesig om haar lyf en stap kombuis toe.
“Pa, Pa moet lekker werk vandag. Hier is vir Pa ietsie lekkers vir die blik,” sê sy skamerig en sit die halwe pakkie vrugtegeur-Sugus langs die kosblik neer.
Dit raak doodstil in die kombuis.
“Jy hoef my net pa te noem as jy wíl.”
“Ek wil,” sê die kind, en loer vlugtig na haar ma.
“Dankie, my kind,” sy woorde.
Dit was goed en reg so. Vir hulle almal.
Daardie dag het die ma ’n geurige pot groentesop gekook en ’n soet lemoenpoeding gebak.
Hulle almal se harte was warm van geluk.
’n Week later het die pa vir sy leesgierige dogter ’n trommel vol dik storieboeke in die motorhuis gaan haal. Haar ma het aanvaar dat die dromerige kind meer van lees as van brei hou en almal het goedhartig gejuig toe die skeefgetrekte oranje trui uiteindelik, ná nog ’n wintervakansie, tóg klaar gebrei kom.
In die jare daarna sou die kind ál dieper onder die besef kom van die waarde van innerlike wysheid, eerlikheid, hardwerkendheid, nederigheid en onbaatsugtige liefde. Om veilig en gekoester te voel wanneer selfs die grootste storms dreig, en deur dit alles te leer dat daar ook skoonheid in onvolmaaktheid is.
Baie jare later sou sy haar pa eerste bel toe sy gradueer, publiseer en ’n kleinseun na hom noem. Hy was dit waardig. Soms wens sy dat sy dit nog net eenkeer weer vir hom kon sê.
“So say it, say it clear (oh say it clear) / You can listen as well as you can hear / It’s too late (it’s too late) when we die (it’s too late when we die.)”
- Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.