Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dít was Holkrans se rol in sluiting van vrede
Fransjohan Pretorius

Die gebeure by Holkrans (Mthashana) in Mei 1902 was ’n laagtepunt in die verhouding tussen die Boere en die Zoeloes in die Anglo-Boereoorlog.

Toe ’n Boerekommando onder Lucas Meyer in 1884 vir Dinuzulu gehelp het om op die Zoeloe-troon te kom, het die nuwe koning die noordwestelike deel van Zoeloeland aan hulle afgestaan. Hierdie gebied, bekend as die Nuwe Republiek, is in 1888 by die Zuid-Afrikaansche Republiek ingelyf as die distrikte Vryheid en Utrecht. Baie Zoeloes, onder meer die abaQulusi onder Sikhobobo, is hierdeur onderwerp tot grondlose arbeider-huurders onder Boere-bewind.

Vroeg in September 1899 het die Natalse regering dit aan die stamhoofde duidelik gemaak dat swart mense in die geval van ’n Anglo-Boereoorlog nie by die stryd betrokke moet raak nie, behalwe om hulself en hul eiendom teen Boere-aanvalle te beskerm.

Die verhoudinge tussen die Boere en die Zoeloes is met die uitbreek van die oorlog versuur omdat die Boere Zoeloe-vee en -perde in die Vryheid-distrik en Zoeloes as agterryers vir kommandodiens gekommandeer het.

Toe die Boere teen Junie 1900 uit die Vryheid-distrik onttrek, het die Zoeloes Boereplase begin plunder en hul vee weggevoer. Verder het Dinuzulu, wat nie langer afsydig van die “witmansoorlog” wou staan nie, die Britse leër toenemend van verkenners en gidse voorsien.

Die operasie het die reeds bittere verhoudinge tussen die Vryheidkommando onder veldkornet J.A. Potgieter en die abaQulusi op die spits gedryf.

Die Britse militêre owerheid het met die Britse residentmagistraat in Vryheid saamgewerk om ’n intelligensienetwerk van Zoeloegidse – hoofsaaklik abaQulusi – te werf en te bewapen om teen die Boere te werk. In reaksie hierop het Boere talle Zoeloes sonder verhoor tereggestel óf omdat hulle gewapen was óf omdat daar vermoed is dat hulle met die Britte saamgewerk het.

As deel van lord Kitchener se dryfjagte en verskroeideaarde­beleid het genl. John French in Februarie 1901 met die hulp van Zoeloe-afdelings deur die Suidoos-Transvaal beweeg en plaasopstalle verwoes, oeste verbrand en op Boere se vee beslag gelê.

In Februarie 1902 het genl. Louis Botha weer ’n kommando die Vryheid-distrik binnegelei. Die Britse mag wat hom die hoof moes bied, was vergesel van ’n duisend Zoeloes wat Dinuzulu gestuur het, en ’n abaQulusi-impi van sowat 800 man, opgerig deur Sikhobobo.

Die operasie het die reeds bittere verhoudinge tussen die Vryheidkommando onder veldkornet J.A. Potgieter en die abaQulusi op die spits gedryf. Op 1 Mei 1902 het die Vryheid- en Utrechtkommando op Botha se bevel Sikhobobo se woonplek vernietig en 4 000 beeste en ’n duisend skape en bokke gebuit.

In die nag van 5 op 6 Mei het die abaQulusi wraak geneem. Driehonderd man het die Vryheid-kommando by Holkrans, 19 km noord van Vryheid, aangeval en 56 van die 72 Boere, insluitende Potgieter, vermoor en hul vee gebuit. Aan die abaQulusi se kant is 52 man gedood en 48 gewond.

Holkrans het ’n diepe indruk op die Boere-afgevaardigdes by die vredesamesprekings te Vereeniging gemaak. Die bedreiging van gewapende swart mans in die Britse leër en die besetting van Boereplase deur swart mense waardeur die kommando’s se bewegingsvryheid beperk is, was uiteindelik ’n belangrike rede vir die Boere-afgevaardigdes om die Britse vredesvoorwaardes te aanvaar en die republieke se onafhanklikheid te verloor.

  • Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Geskiedenis  |  Bittereinders  |  Anglo-Boereoorlog  |  Soldate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.