Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dobbel of rook, dis soos vinkel en koljander
Martie Retief Meiring

Het jy al daaraan gedink om die Lotto te “probeer”, ’n draaitjie te gaan maak in die pas geopende casino’s of op internet deel te neem aan die nimmereindigende aanbiedinge om te kan dobbel? Dink weer. Die psigoloë, beraders, ouers, kerke en veral oud-dobbelaars waarsku: Staan tru. Hou jou laaste rand liewer in jou sak as in daardie gleufie in die dobbelmasjien.

As ons armsalige Suid-Afrikaners vertel word sigarette word weerhou om ons gesond te hou, is die regering glad nie bekommerd oor “siekte” in die dobbelaarswêreld nie.

Of jy jou saligheid, rykdom of skuldvereffening soek deur die perde te speel, of one-armed bandits, blackjack, roulette of poker, jou kanse om te “wen” is slegs 5%. In die dobbelwetenskap (ja, daar is so ’n wetenskap!) is strategie, volhoubaarheid, kophou, ’n goeie geheue en verkieslik ’n bodemlose Switserse bankrekening ongeveer die enigste wapens teen die wispelturigheid van die kaarte of roulette-wiel.

Die legende (of waarheid) is dat die Groot Muur van China deur dobbelgeld gebou is. Die Chinese word beskou as die grootste dobbelnasie – dáár word glo maklik oor die presiese tyd van die sonsopkoms gedobbel.

Die legendariese Kerry Packer, Au­straliese mediabaas en krieketbaas, word steeds ná sy dood in 2005 onthou as een van die grootste dobbelaars ooit. Casino’s het oor hul voete geval om hom daar te kry. Hy het miljoene verwed en miljoene gemaak, en soms, selde, verloor ook.

Die Lotto is Suid-Afrika se grootste dobbelaktiwiteit. Selfs hier kom verslawing voor.

Die blink kant van dobbel, die speelgrond van ongelooflike ryk mense is paleisagtige casino’s, mans met strikdasse en dik sigare, en juweelbehangde vroue wat tot miljoene kan “maak” of verloor. (Die eerste casino is in 1638 in Venisië gebou – toe al ’n speelplek vir die rykes).

Maar die werklike tonele is van mense voor masjiene, nooit goed geklee nie, en die meeste met angstige gesigte. ’n Dobbelaarvriendin het gedink sy sal net “gaan kyk” hoe lyk ons naaste geopende casino nou met die afstand-opdrag en Perspex-afskortings tussen elke masjien.

Droewig, is haar oordeel. En, ja, daar was nogal heelwat mense. Maar hoe ook, dis asof ’n korona-spook ook daar hang. Selfs die klank van die masjiene het droewig geklink.

Die Lotto is Suid-Afrika se grootste dobbelaktiwiteit. Selfs hier kom verslawing voor. Broodgeld, happe uit salaristjeks en geheimhouding teenoor die familie maak van die Lotto ook ’n gevaar. Lotery-navorsing verklaar openlik dat 26, 16, 14, 32 en 28 die “gelukkigste” nommers is.

Groot gewag word gemaak van arm mense wat groot geld wen. Maar navorsing toon ongeveer 70% van loterywenners wêreldwyd raak weer hul geld kwyt, ondanks die berading wat wenners glo kry oor die besteding van hul wengeld.

Maar ons staatskas het te dun geraak. Te veel belasting word verloor. Die hoëpriesterlike bevelsraad het steentjies gegooi: dobbelgeld of rookgeld? Die groter maatskaplike sonde? Vinkel en koljander, die een soos die ander.

Meer oor:  Martie Retief-Meiring  |  Verslawing  |  Rook  |  Mening  |  Dobbel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.