Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Doen die kerk nog wat hy moet?

Suid-Afrikaners wil voortdurend weet of godsdienstige instansies in die algemeen en die kerk in besonder heeltemal uit die openbare arena teruggetree het, skryf Nico Botha.

Foto ter illustrasie Foto: Gallo Images

’n Mens hoor ook dikwels die vraag of die kerk dan stil geword het en veral in die Covid-19-pandemie in ’n wêreldvreemde, piëtistiese en private godsdiens verval het wat gerig is op die instandhouding van die kerk en niks anders nie.

Met inagneming van die brandende krisis waarin die land verkeer met skreiende armoede wat steeds bestaan, werkloosheid, nuwe vorme van polarisasie onder Suid-Afrikaners, korrupsie, ’n toenemende neiging tot anargie en wetteloosheid en ’n uitdaging van die regstaat deur mense wat van veel beter behoort te weet, is die vraag oor godsdiens en die kerk pertinent.

Natuurlik is daar allerhande pogings deur kerke en para-kerklike instansies om iets aan die saak te doen, maar die kerk struikel telkens oor die ongerymdhede binne eie geledere.

So 'n beweging moet ook vra hoe Christene mekaar oor alle grense heen kan bystaan in hul soeke na ’n diepgaande belewenis van die liefde vir mekaar, hoe hulle vrede kan najaag en na geregtigheid kan soek.

Boonop het ons steeds te doen met onenighede en verdeling op etniese en rassegronde en heelparty ander bronne van fragmentering; selfs in denominasies wat veronderstel is om één en nierassig te wees.

Daarom vra sommige Christene en kerkmense al hoe meer of ons nie ’n breedgebaseerde beweging nodig het wat nie bloot net daarop gerig is om ’n soort van ambulansdiens te lewer en hier en daar eerstehulp toe te pas nie, maar iets waar ruimtes geskep word vir godsdienstige mense om op ’n nuwe manier met mekaar om te gaan en ’n land te help red wat gevaarlik na aan die afgrond gekom het.

Só ’n beweging moenie dit wat reeds in kerke gedoen word bloot dupliseer nie, maar moet eerder kyk na maniere waarop Christene mekaar kan help om die waardes van die ryk van God en die evangelie meer getrou en op ’n volhoubare manier uit te bou.

Dit moet ook vra hoe Christene mekaar oor alle grense heen kan bystaan in hul soeke na ’n diepgaande belewenis van die liefde vir mekaar, hoe hulle vrede kan najaag en na geregtigheid kan soek.

Dit moet vra hoe Christene op ’n onbevange manier met mense van ander godsdienste hieroor in gesprek kan tree. En, dalk nog moeiliker, hoe Christene met mense kan saamwerk wat nie enige geloof of godsdiens aanhang nie en mense wat ideologieë nastreef wat nie noodwendig deur die konsep van die ryk van God geïnspireer word nie.

Nico Botha

’n Mens hoor baie duidelik dat hierdie pogings net kan slaag as die Christendom in Suid-Afrika bereid is om diep selfondersoek te doen oor hoe die land en sy mense liederlik in die steek gelaat word as Christene in hul eie hoekies bly wegkruip.

Is Christene voorts bereid om te erken dat die kerk dikwels niks anders as ’n spieëlbeeld van die samelewing is nie?

Die grootste uitdaging vir so ’n beweging sal wees om op ’n ondubbelsinnige manier kant vir die armes in ons samelewing te kies.

Daar sal aan maniere gedink moet word om, pleks van die uitdeel van aalmoese, arm mense te help om self op ’n kleinskaalse dog volhoubare manier iets aan die gang te kom vir hul eie versorging deur byvoorbeeld groente te kweek en te verkoop om kontant vir ander noodsaaklikhede te bekom.

Maar wat dan van die profetiese roeping van die kerk? Kan ’n kerk wat die Evangelie ernstig opneem en die waardes van God se ryk as lewensbelangrik beskou, stilbly in die aangesig van soveel dinge wat in die land skeefloop?

Nee, natuurlik nie.

Maar dit wil voorkom asof mense wat by voorlopige gesprekke oor so ’n nuwe beweging betrokke is, oortuig is daarvan dat dit nie help om die staat en die regering profeties op ’n ongeloofwaardige wyse te probeer aanspreek nie.

En vandaar dus die aandrang op die introspeksie en die transformasie van die kerk self.

Dit sal dalk ook beter wees om stukkie vir stukkie te mobiliseer as ’n mens so ’n beweging aan die gang wil kry, eerder as om vir groot, dramatiese oomblikke te wag.

Dis ’n komplekse benadering, maar die gedagtegang is dat as die kerk self voorbeeldig begin lewe en byvoorbeeld self sterk uitreik na armes, sal die profetiese getuienis teenoor die regering en mense in die staat en die privaat sektor, wat hulle aan korrupsie skuldig maak, soveel meer geloofwaardig wees.

Dit sal dalk ook beter wees om stukkie vir stukkie te mobiliseer as ’n mens so ’n beweging aan die gang wil kry, eerder as om vir groot, dramatiese oomblikke te wag.

Wie weet, dalk ontstaan daar op dié manier oral in die land klein groepe wat op ’n tasbare wyse in die daaglikse lewe aan liefde, vrede en geregtigheid gestalte kan gee.

Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Kerk  |  Godsdiens  |  Christene  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.