Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Doen die regte ding, pres. Zuma

Pres. Jacob Zuma se gesloer om die nuwe SAUK-raad te bekragtig is verdag en dui op die laaste stuiptrekkings van ’n desperate leier wat maar al te bewus is daarvan dat die uurglas besig is om leeg te loop.

Zuma het nog altyd ’n wanbegrip getoon van wat die betekenis van ’n onafhanklike openbare uitsaaier is – wat die SAUK wetlik behoort te wees.

Vir hom en die ANC is die SAUK daar om die belange van die regerende party en sy leiers te dien en nie die van die publiek nie. In dié opsig is daar geen verskil tussen die ANC en die ou Nasionale Party (NP) of tussen Zuma en oudpres. P.W. Botha nie.

Onder Zuma kon die SAUK nooit werklik tot sy reg kom as openbare uitsaaier nie en is weens politieke aanstellings van raadslede en senior amptenare vir die nastreef van partypolitieke doelwitte misbruik.

Die aanstelling van Hlaudi Motsoeneng was ’n blatante voorbeeld van onbehoorlike politieke beïnvloeding en inmenging by die openbare uitsaaier. Motsoeneng het by tye met trots erken dat hy by die uitsaaier is om sy politieke meesters, en veral Zuma, te dien.

Daar kan met reg gewonder word waarom Zuma juis nóú, aan die vooraand van die einde van sy ANC-presidentskap, klaarblyklik daarop uit is om die SAUK verder vir sy eie doelwitte te misbruik.

Dit is nie moeilik om sy motiewe na te speur nie. Die SAUK is die invloedrykste media-instelling in die land en beheer daarvan kan, om al die verkeerde redes, baie waardevol wees.

Verreweg die meeste Suid-Afrikaners maak vir nuus en inligting op die openbare uitsaaier staat. Maar dit is ’n groot probleem as die nuus en inligting gemanipuleer word om politieke partye en hul leiers se belange te dien.

Dit is nie vergesog om te dink dat Zuma reken dat hy, met die regte mense in plek by die SAUK, nog die verloop van die ANC se nasionale verkiesingskonferensie in Desember kan beïnvloed om sy voorkeurkandidaat se kanse te bevorder nie.

Dit is egter iets wat lelik kan boemerang. Dieselfde parate burgerlike samelewing wat gehelp het om van Motsoeneng ontslae te raak, sal enige verdagte optrede deur ’n nuwe SAUK-raad fyn dophou en dienooreenkomstig optree om enige vergrype te neutraliseer.

Zuma se redes vir die vertraging om ’n nuwe raad te bekragtig, grens aan die belaglike. Onthou, die veelparty- parlementêre komitee wat die name van die nuwe raad aan Zuma voorgelê het, het hul huiswerk deeglik gedoen.

Onder Zuma se redes vir die versuim is dat hy verdere inligting oor die benoemde kandidate moet verifieer.

Onder Zuma se redes vir die versuim is dat hy verdere inligting oor die benoemde kandidate moet verifieer.

Dít is alles werk wat die komitee reeds gedoen het. Die eintlike probleem is waarskynlik dat die benoemdes nie die name insluit van mense wat Zuma te wille sal wees nie.

Zuma het Sondag kritiek op hom oor sy voetslepery met die aanstelling van die nuwe SAUK-raad as “skinderstories en moedswillig” afgemaak.

Die antwoord is duidelik: Bekragtig dan die aanstellings of gee duidelike redes waarom dit nie gedoen word nie.

Dit is tyd dat die SAUK van onbehoorlike politieke beheer en beïnvloeding vrygestel word.

Dit is die lot van die uitsaaier sedert die koms van die demokrasie. Die ANC het gekyk wat die NP gedoen het, daarvan gehou en besluit om daarop voort te bou – net in ’n veel erger graad.

Die SAUK het weens flagrante wanbestuur en korrupsie verval in ’n reuse-las op die staatskas, met die een ná die ander finansiële reddingsboei wat die staat na hom moet gooi om die senders oop te hou.

Zuma skuld dit aan Suid-Afrika om hierdie keer – in die taal van die SAUK self – die regte ding te doen.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Sauk  |  President  |  Gesloer  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.