Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Doen dit self, regering het geen aptyt nie

Toe ek op 8 Januarie gevra het dat skole se heropening uitgestel word, het Suid-Afrika meer as 21 000 infeksies per dag aangeteken. Met die skryf hiervan was die nuutste syfer 4 525. Ek wil my dus verstout om te sê dat die wag die moeite werd was. Dit is nou heelwat veiliger vir leerlinge en onderwysers. Maak dus reg vir terug skool toe.

Ongelukkig het die departement van onderwys weer die toets gedruip. ’n Maand gelede het ek gevra dat die ekstra tyd benut word om alle skole gereed te kry vir die nuwe skooljaar. Almal was hoopvol dat die department ’n paar lesse geleer het uit 2020. Die hoop het beskaam.

Dit blyk nou dat byna die helfte van alle openbare skole steeds nie gereed is om op 15 Februarie te heropen nie. ’n Opname deur vyf vakbonde toon dat net 47% van alle skole meen hulle sal aan alle protokolle kan voldoen.

Altesaam 40% van die skole het nie voldoende handreinigers nie en 20% van die skole het nie genoeg maskers nie. ’n Mens sou dink die onderwysdepartement sou ná ’n lang vakansie en nóg drie weke genoeg tyd gehad het om skole gereed te kry. Toe nie.

Die DA meen arm kinders word vir die Covid-wolwe gegooi.

Hoewel Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, nie regstreeks verantwoordelik gehou kan word daarvoor dat die Oos-Kaap skole vra om vir die eerste kwartaal self noodsaaklikhede aan te skaf nie, moes sy tog toesig gehou het. Die DA meen arm kinders word vir die Covid-wolwe gegooi.

Dit laat opnuut vrae ontstaan oor die bekwaamheid van die minister en haar span.

Oor die redes waarom sy nie die mas opkom nie, kan bespiegel word.

Sommiges sal voortgaan om verskonings vir haar te maak. Maar dalk is dit tyd dat sy (en pres. Cyril Ramaphosa) die waarheid in die oë kyk. Ná 15 jaar as minister in ’n uitdagende portefeulje is dit dalk tyd vir ’n nuwe besem. Maar met watter kader gaan Ramaphosa haar vervang?

Ek weet van baie bekwame onderwyslui, maar nie één beskik oor die belangrikste kwalifikasie nie: Om ’n kader te wees. So wat staan ons te doen? Daar sal dié wees wat sal sê belastingbetalers verdien beter. Toegegee. Die waarheid is egter die regering het nóg die kapasiteit nóg die aptyt om onderwys reg te ruk.

Dis tyd dat ouers begin om self verantwoordelikheid te aanvaar vir hul kinders se opvoeding. As ons vir die regering wag, gaan ons heel jaar wag.

Dit vra nie vir geld nie. Bied jou hulp aan en benut die volgende twee weke om ons skole te help skoonmaak. Dis immers jou kind se veiligheid wat op die spel is.

Wat betref geld vir maskers en handreinigers: Ons het gedurende apartheid duisende rande ingesamel met eenvoudige kosverkope vir sporttoernooie toe borge net een kant toe gekyk het. Ons was tóé suksesvol. Ons kan dit weer doen.

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement van kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Onderwys  |  Onderwysdepartement  |  Onderrig  |  Pandemie  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.