Wetenskaplikes wat lede van die Internasionale Walviskommissie (IWK) se navorsingskomitee is, het die naweek ’n ope brief geskryf oor hul kommer oor die voortbestaan van walvisse, dolfyne en tornyne.
In die 15 jaar wat ek oor die bedrywighede en die politiekery in die IWK skryf, is dit die eerste keer dat wetenskaplikes van dié komitee die pen opneem oor dié bewaringskwessie.
Let wel, die wetenskaplikes is nie betrokke by die politiekery in die IWK nie. Hulle verskaf die resultate van hul navorsing aan die lande se afgevaardigdes wat lede van die IWK is. Hier val wetenskaplike bevindings dikwels vas in debatte tussen diegene wat teen die jag van walvisse gekant is en dié wat ten gunste daarvan is.
Die navorsers wys nie direk die vinger na die sondaars wat die see plunder nie. Eintlik weet ons wie die groot skuldiges is as dit by onwettige visvangste kom waar dolfyne en walvisse “per ongeluk” in nette beland en doodgaan.
Ons weet ook wie dié is wat met hul bore ’n geraas in die see maak en dolfyne, walvisse en tornyne van koers af dwing en laat strand.
Ons weet ook wie dié is wat met hul bore ’n geraas in die see maak en dolfyne, walvisse en tornyne van koers af dwing en laat strand. Baie van ons weet wie chemikalieë in riviere stort wat tot die dood van dié kwesbare soogdiere lei.
Dink maar net aan die afgelope maand se gebeure in die Indiese Oseaan by Mauritius toe die Japanse olietenkskip MW Nagashiki teen ’n unieke koraalrif gebots, in twee gebreek en duisende liter olie gestort het wat walvisse en dolfyne laat strand het.
Die boodskap wat die wetenskaplikes oordra, is kragtig: Meer as die helfte van die 90 walvisspesies op aarde voer tans ’n oorlewingstryd. Die noordelike noorkapper, ’n familielid van ons suidelike noorkapper, is een van die mees bedreigde walvisspesies op aarde. Daar is net 400 van hulle oor. En omdat die brief aan elkeen van ons gerig is, het ons almal ’n verantwoordelikheid om te sorg dat die oseaan gesond bly. Gebruik minder plastiek, raak betrokke by nieregeringsorganisasies en bly op die hoogte van die ANC-regering se plan, Operasie Phakisa.
Japan, wat sy lidmaatskap sowat ’n jaar gelede opgesê het, het aangekondig hy gaan nie meer walvisse in die Suidelik Oseaan by Antarktika jag nie.
Daar het intussen ook goeie nuus uit die geledere van die IWK gekom: Japan, wat sy lidmaatskap sowat ’n jaar gelede opgesê het, het aangekondig hy gaan nie meer walvisse in die Suidelik Oseaan by Antarktika jag nie. Hy gaan wel walvisse jag, maar in sy eie gebiedswaters.
Dit is ’n reuse-oorwinning vir die bewaring van walvisse in die Suidelike Halfrond wat hierdie tyd van die jaar met hul pasgebore kalfies na die ryk voedselbronne van Antarktika terugkeer. Maar moenie te gerus wees nie: Daar is deesdae baie bedrywighede met die olie- en gasbore in die Mosambiekkanaal, waar walvisse in die winter geboorte gee.
Dit was dus ’n wonderlike boodskap toe besoekers aan die Suidkus die naweek laat weet hulle het minstens 32 volwasse walvisse met kalfies suidwaarts gesien migreer. Wat ’n gesig moes dit nie gewees het nie! Watter uitdagings moes dié uitsonderlike diere nie getrotseer het op hul migrasie van duisende kilometer nie.
- Tempelhoff is ’n vryskut-omgewingsjoernalis.