Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Doen maar eers aan jouself – en dan aan ander
Heinz Mödler

Die bekende Britse bioloog John Haldane het op ’n keer gesê: “There is no ethical or scientific justification for performing experiments on any human or animal, which the doctor could equally perform on himself.”

Diere as proefkonyne is, om die minste te sê, barbaars, wreed, sadisties en teen die grein van alles wat ons behoort te wees. Om maskers met brandende sigarette aan honde se snoete te heg om vas te stel of rook longkanker veroorsaak, kan tog nie aanvaarbaar wees nie.

As jy werklik wil weet of tabakrook longkanker veroorsaak, vind gerus self uit. Rook elke dag 40 plus sigarette en kyk wat gebeur.

Die inligting van jou selfopgelegde, willekeurige en bewuste daad gaan baie mense help. En baie honde gelukkig maak.

Ongelukkig is mediese antwoorde nie altyd so eenvoudig nie en is daar dikwels geen ander manier om vas te stel of ’n middel wat sê nou maar bloeddruk beheer, nie ook kanker veroorsaak nie.

Maar Haldane het ’n punt beet. As jou pasiënte eerste kom, probeer eers vasstel wat jou voorgeskrewe behandeling aan jouself doen voordat jy dit ewe nonchalant voorskryf.

n Paar honderd jaar gelede het niemand geweet hoe ’n mens ’n geslagsiekte opdoen nie.

’n Paar honderd jaar gelede het niemand geweet hoe ’n mens ’n geslagsiekte opdoen nie. Sifilis, gonorree en ander onaangename siektes was aan die orde van die dag.

In 1767 het die Britse dokter sir John Hurter die etter van só ’n pasiënt by sy eie geslagsdeel ingespuit om vas te stel of die kiem nie dalk deur seksuele omgang oorgedra word nie.

In 1799 het die Britse chemikus en uitvinder Humphry Davy besluit Hurter het die regte idee en het stikstofoksied ingeasem om die vlakke van bewussyn te bestudeer. Die enorme hoeveelhede van hierdie narkosegas wat hy ingeasem het, kon sy dood veroorsaak het. Maar Wagter was ten minste veilig.

Vele ander dokters het in die belang van die mensdom soortgelyke eksperimente op hulself uitgevoer. Maar meer algemeen was (en is) dit diere wat die spit moet afbyt. Mense se lewens was en is te kosbaar om ’n kans te waag, maar om ’n dier te offer, is aanvaarbaar.

Barry Marshall is ’n uitsondering. Hierdie Australiese dokter het Helicobacter pylori-bakterieë gesluk om te bewys dat hierdie kiem maagsere veroorsaak. Vir sy dapperheid het hy in 2005 die Nobelprys vir medisyne ontvang.

Marshall se resultate het die behandeling van maagsere vir ewig verander. Wie sou ooit kon dink dat ’n kiem ’n maagseer kan veroorsaak? Deesdae skryf dokters middels voor om suurproduksie te verminder en simptome te verlig, maar pasiënte word ook getoets of hulle nie dalk H. Pylori het nie. Indien wel, word antibiotika saam met die ander medikasie voorgeskryf.

Eksperimente op diere word deesdae deur etiese komitees gereguleer. Redes wat aansoeke vergesel, is gewoonlik om nuwe medikasies te toets of vir chirurge om spesiale tegnieke baas te raak voordat hulle dit op mense toepas. Streng protokolle het gesorg dat eksperimente aansienlik verminder het.

Enige dokter kan nie sommer oornag besluit om môre 20 honde in die naam van geneeskunde op te offer nie. En dan by die huis Wagter se koppie te vryf nie.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Dokters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.