Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Dominee Tienie’: Briljant eietyds
Barnard Beukman

Die klagte wat Belinda Holloway van Parow teen die Afrikaanse rolprent Dominee Tienie ingedien het, verklap sy mis die punt van die storie heeltemal.

Sy meen ’n slegte beeld van Christene word geprojekteer. Moontlik wys dit weer hoe mense dieselfde ding verskillend beleef.

’n Mens kan nie aan ander mense voorskryf hoe hulle iets moet interpreteer nie en dit is ook nie wat hier gepoog word nie. Maar ek is van mening dat sy die fliek glad nie gesnap het nie.

Dominee Tienie is in wese ’n skets, met ’n groot skoot deernis en veral nooit voorskriftelik nie. Van hoe die ete saam met die vleisbraai in een toneel bedien word, tot die wroeging van ’n gemeenskap oor ’n veranderde omgewing, is dit ’n briljante stuk eietydse werklikheid.

In Mei verlede jaar het ek in dié ruimte geskryf: “Afrikaanses het ook ’n trotse tradisie van skrywersbewegings, kunstenaars, akademici, joernaliste en selfs linkse stemme wat op kritieke tye ongemaklike uitdagings gestel het – ’n belangrike rol in enige samelewing met ’n toekoms. Maar beleef tans ’n bestaanskrisis sonder enige gravitas of benul van hul nodige rol.”

Dit het veral verwys na diegene wat die hoofstroom- Afrikaanse gemeenskap, of ander stemme daarin wat met hulle verskil, die hele tyd probeer afkraak en beterweterig voorskryf. Dit as die enigste manier om hulself te posisioneer. Die Mei-rubriek was onder die opskrif: “Afrikaanses vra nou ander stem.”

Sonder enige politiek korrekte voorskriftelikheid, nydigheid of enige sweem van neerhalend wees, word ’n spieël opgehou.

En miskien is dit juis wat Sallas de Jager, draaiboekskrywer en regisseur, asook Dana Snyman as oorspronklike skrywer hier bied. Sonder enige politiek korrekte voorskriftelikheid, nydigheid of enige sweem van neerhalend wees, word ’n spieël opgehou.

Daar is ook ’n afwesigheid van die gewoonlik eng gedefinieerde goeie en slegte ouens in die fliek – al toets sommige die grense. Dit is net een gemeenskap met uiteenlopende menings en wat saam deur kwessies worstel – hetsy oor die kerk, die dominee se rol, die Bybel, die huwelik, verhoudings met tieners, gays en swart mense.

Geen van die uiteindelike uitkomste in die storie word ook as voorskriftelike enigste uitweg in die kyker se keel afgedruk nie, maar bloot aangebied as ’n sameloop van ’n bepaalde omstandigheid.

En ja, een van die kwessies in die storielyn gaan oor ’n gay outjie in die gemeente wie se ma daarop aandring dat hy in die kerk moet trou.

En ja, een van die kwessies in die storielyn gaan oor ’n gay outjie in die gemeente wie se ma daarop aandring dat hy in die kerk moet trou. Maar selfs met haar en van die gay karakters word soms goedig die draak gesteek. Weer eens geen voorskrif nie.

Feite is, Afrikaanse en ander kerke beleef bestaanskrisisse en sukkel meermale om in ’n moderne omgewing aan te pas. Tradisionele gesinstrukture is onder druk, ook weens afwesige ouers.

Boonop is daar die slegte ekonomie en gemeenskapsgrense van kleurafsonderlikheid wat veral in stedelike gebiede vervaag. Vir baie Afrikaanse mense is die kwessies ’n bron van kommer waarop hulle verskillend reageer. Hoe daarmee gemaak?

Die een suggestie uit die storie wat sterk na vore tree is dat die Afrikaanse gemeenskap – almal ingesluit – steeds ’n kernrol kan speel om ’n reuseverskil te maak. As deel van ’n nuwe werklikheid, maar daardeur juis vir hulself ook.

Ons is in ’n tyd wat daar ook in die Afrikaanse gemeenskap diegene is wat ’n loopbaan daaruit probeer maak om Afrikaanse kerke en die Christelike geloof om elke hoek en draai te probeer afkraak. Ek kon dit nie in die fliek bespeur nie. En dit is waar ek met Holloway verskil.

Ja, gaan kyk dit gerus om saam te gesels en om terselfdertyd die kragtoer deur verskeie akteurs te geniet.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Dominee Tienie  |  Kerk  |  Rolprent  |  Gemeentelede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.