Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Donald Trump sal moet wóél as hy wil wen

In sy reaksie op vandeesweek se Amerikaanse middeltermynverkiesing het pres. Donald Trump die Republikeinse vordering in die Senaat aan sy eie aandeel toegeskryf, maar sy party se verlies in die Huis van Verteenwoordigers onderspeel.

Dis moeilik om agter te kom hoe oortuig Trump van sy eie woorde is. As hy dieper delf, het hy rede om bekommerd te wees, want soos sake nóú staan, gaan hy die kreeftegang.

Om mee te begin kan gekyk word na die totale getal stemme wat vir die twee huise van die Kongres afsonderlik uitgebring is.

Vir die Huis van Verteenwoordigers is landwyd meer as 51 miljoen stemme vir Demokratiese kandidate uitgebring teenoor meer as 47 miljoen vir Republikeinse kandidate.

Dis vertaal in ’n aansienlike wins in setels, met die gevolg dat die Demokrate nou die Huis gaan oorheers. Daarteenoor het die Republikeine netto genoeg Senaat-setels by die Demokrate afgevat om hul greep op dié instelling te verstewig. Maar dis ’n misleidende prentjie: In die Senaatsverkiesings is meer as 45 miljoen stemme op Demokratiese kandidate uitgebring teenoor net meer as 33 miljoen op Republikeine.

Hoe rym dit? Die verklaring lê in die Amerikaanse stelsel. Elke deelstaat kry twee senaatsetels, ongeag die grootte van hul bevolking.

Dus kry die bevolkingrykste staat, Kalifornië (iets meer as 39 miljoen mense), ewe veel senatore as die kleinste, Wyoming (563 626).

Toevallig is Kalifornië ’n staat met ’n Demokratiese meerderheid, terwyl Wyoming solied agter die Republikeine staan.

Toevallig is Kalifornië ’n staat met ’n Demokratiese meerderheid, terwyl Wyoming solied agter die Republikeine staan.

Neem nou verder in ag dat die Demokrate hul grootste steun in die dig bevolkte stedelike state en die Republikeine op die dun bevolkte plattelandse state kry, en dit word duidelik hoe Trump se party die Senaat met ’n minderheid­stem kan oorheers.

Kyk ook na die tendens. Volgens die persburo AP het die Demokrate se stem-aandeel in 47 Huis-setels gekrimp, maar in 251 setels gegroei.

Luidens ’n diepgaande ontleding in The New York Times was daar landwyd in die Huis-verkiesing ’n gemiddelde swaai van tien persentasiepunte na die Demokrate vergeleke met die vorige verkiesing in 2016.

Uitgangspeilings wys voorts dat die Demokrate se steun vanjaar eerder stedelik as plattelands is, eerder vroulik as manlik, eerder jonk as oud, eerder swart of Latyns-Amerikaans as wit, eerder met akademiese kwalifikasies as daarsonder.

Dieselfde peilings wys ook dat 44% van die ondervraagdes meen Trump doen goeie werk, teenoor 52% wat sy werk afkeur. Die een syfer wat nie heeltemal só sleg is nie, is dié wat meen hy moenie voor die Senaat aangekla word nie (55%), maar hy kan nie gerus wees dat ’n volle 41% dit wel wil sien gebeur nie.

Trump gaan sonder twyfel in 2020 staan. Hy sal egter moet wóél as hy weer wil wen.

Meer oor:  Donald Trump  |  Leopold Scholtz  |  Stemme  |  Wen  |  Verkiesing  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.