Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Donderdag sal ek ook bont sokkies dra
Aniki
Aniki Joseph

Dit is ’n loom herfsoggend in Maart toe die spesiaal gemerkte bussie met opgewonde piekniekgangers om die draai kom. Kort, breë handpalms wuif uitbundig van agter die skoon ruite. Die bestuurder parkeer versigtig in die skaduwee van ’n groot akkerboom.

Dan tuimel die groep in hul spierwit T-hemde, blou denimbroeke, gemaklike stapskoene en wye glimlagte omtrent gelyktydig by die deur uit. Hulle groet in die taal van onvoorwaardelike liefde met stewige drukkies, asof ons mekaar nog altyd ken. Dit is dan in dié oomblikke reeds dat ek onder die besef kom dat die lewe ’n afspraak het met my op dié dag.

Die verpleegpersoneel verseker dat almal sonskerm dra, dat hulle eers die toiletgeriewe gebruik en deeglik hande was. Daar is rystoele beskikbaar vir diegene wat dalk moeg mag word.

“Dit is my verjaardag vandag, tannie,” sê iemand. “Hoe oud is jy vandag, jong man?” “Ek is agt jaar oud vandag. Ek hou van verjaar. Ek verjaar elke dag.”

Die verpleegster glimlag, vryf sy weerbarstige kuif reg en sit sy pet op sy kop. “Eintlik word hy vanjaar 69 jaar oud.”

Die lewensverwagting vir mense met Down se sindroom is gemiddeld 45 tot 55 jaar, maar daar is uitsonderings. Vroeë mediese en opvoedkundige ingryping is uiters belangrik. Gehoor- en oogprobleme is algemeen. Hartsiekte, leukemie, tiroïedsiektes en vertraagde fisieke en verstandelike groei is ook uitdagings vir lyers van Down se sindroom.

Ons verken saam die pragtige Cullinan. Drentel tydsaam deur museums en klein winkeltjies. Die klein draadtafeltjie onder ’n boom vang die oog van ’n meisie in die groep. Sy trek ’n stoel uit, gaan sit en streel versigtig oor die oor van ’n porseleinkoppie op die tafel. Dan vou sy haar hande op haar skoot, kyk op met oë wat blink van stil vreugde. Ek sluk aan die knop in my keel. Iets omtrent dié koppie met die fyn, pienk blommetjies het vandag aan haar siel geraak.

Agter in die erf van ’n winkel met oudhede staan ’n bad wat omskep is in ’n soort spuitfontein.

Agter in die erf van ’n winkel met oudhede staan ’n bad wat omskep is in ’n soort spuitfontein. Daar word vrolik gegryp na die water wat blink spatsels in die lug strooi. Net soos wat alle kinders sal neig om te doen. Binne die winkel besigtig ons die rakke gepak met items uit vervloë dae. “My ouma het ook so ’n ding gehad,” sê iemand en wys na ’n meul. “Sy het altyd vir my koekies gebak.” Hy kyk en kyk, loop weg, draai terug . . . en kyk weer. Steek sy hand uit en raak daaraan. “My ouma is dood,” sê hy.

Later word daar gesmul aan gevulde pannekoeke en melkskommels. Ek verkyk my aan die deernis waarmee die verpleegpersoneel help om pannekoeke te sny en mondhoeke skoon te vee. Ek probeer uitvind wat die grootste behoeftes is vir ondersteuning vir mense met Down se sindroom. Die verpleegsters antwoord byna gelyktydig: “Interaksie, liefde en persoonlike aandag.”

  • Donderdag 21 Maart is dit Wêreld-downsindroomdag en ek sal gekleurde sokkies dra.
Meer oor:  Aniki Joseph  |  Begrip  |  Menswees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.