Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dorpe en boerderye kan in duie stort

Swak basiese dienslewering verdryf beleggers en kan tot die ondergang van klein dorpies en boerderye lei, skryf Wandile Sihlobo.

Lewensvatbare landbou-ondernemings sal nie ontwikkel waar munisipaliteite met vrot dienslewering voortgaan nie. Foto: ISTOCK

Boerderye en landbou-ondernemings speel ’n kritieke rol om klein dorpies en landelike gebiede se ekonomie te dra. Die media en ekonomiese literatuur toon heelwat bewyse hiervoor. Hierdie afhanklikheid hou egter inherente risiko’s in.

Buitelandse literatuur is geneig om te fokus op die verwoesting van klein dorpies tydens droogtes, of wanneer landboudrukgroepe oor spesifieke beleide stry.

In Suid-Afrika is daar egter ’n ander scenario, naamlik munisipaliteite wat misluk om basiese dienste aan hul gemeenskappe en ondernemings te lewer. Hierdie dienste sluit in water en sanitasie, elektrisiteit, paaie en tegnologiese infrastruktuur.

Suid-Afrika het ’n drieledige regeringstelsel. Die nasionale regering stel ’n nasionale ekonomiese ontwikkelingsplan op en dryf die soeke na plaaslike en buitelandse beleggers. Die provinsiale regerings speel ook ’n groot rol om na beleggers te soek en van die regering se planne en programme uit te voer.

Die Wes-Kaap, wat die land se tegnologiese spilpunt genoem word, is die suksesvolste provinsie. Maar beleggers se inspuiting in ’n provinsie hang af van die munisipaliteit – spesifiek hoe goed hy bestuur word.

Suid-Afrikaanse munisipaliteite is in groot moeilikheid. Huishoudings en inwoners voel nou al baie jare die effek daarvan. Gevolglik wend inwoners hulle tot protesoptogte oor die land heen. Daar is egter deesdae toenemende bewyse dat die mislukking in regering en dienslewering boerderye en landbou-ondernemings in klein dorpies regstreeks benadeel.

’n Goeie voorbeeld is Clover, wat onlangs “weens die voortslepende swak dienslewering” besluit het om sy kaasvervaardigingsaanleg van Lichtenburg, ’n dorp in Noordwes, na sy bestaande aanleg buite Durban in KwaZulu-Natal te skuif.

Lichtenburg is deel van die land se mielieproduksiedriehoek.

Volgens ramings in die 2020-’21-seisoen maak drie provinsies – die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes – 84% van die land se totale mielieproduksie uit.

Ineenstorting

Tito Mboweni, minister van finansies, het onlangs ’n somber prentjie van die toestand van munisipaliteite in die land geskets. Daar is 278 munisipaliteite in Suid-Afrika.

Volgens Mboweni verkeer 163 in geldelike verknorsing, 40 sukkel om basiese dienste te lewer en 102 het begrotings vir 2021-’22 goedgekeur wat hulle nie kan finansier nie.

’n Groeiende aantal is ook nie in staat om hul rekeninge vir krag, water en eiendomsbelasting in te vorder nie.

Mboweni het voorts daarop gewys dat die nasionale uitvoerende gesag vir die eerste keer in ons demokrasie deur ’n hooggeregshof beveel is om by ’n munisipaliteit se finansiële en diensleweringsake in te gryp.

Munisipaliteite in landelike gebiede en klein dorpies is die slegste af.

In ’n onlangse studie deur die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie het navorsers gevind dat die vlak van dienslewering in landelike gemeenskappe swakker as dienslewering in stedelike gebiede is. En daar is geen aanduiding dat dit gaan verbeter nie.

Gevolge

Die effek van Clover se besluit om uit Lichtenburg te trek sal waarskynlik enorm wees. Wanneer so ’n maatskappy in ’n dorp sy deure sluit, sal dit waarskynlik na die plaaslike ekonomie oorspoel.

Volgens ’n verklaring deur die plaaslike regering was Clover vir 380 permanente en 40 tydelike poste verantwoordelik. Hy het ook 20 algemene werkers en 20 vragmotorbestuurders en skoonmakers in diens gehad. Die aanleg was verder ’n verkoopspunt vir boere se opbrengste. Die inkomste van hierdie aktiwiteite sou ’n spul ander ondernemings in die gemeenskap kon ondersteun.

Clover is nie die eerste groot maatskappy wat swak munisipale dienste openlik afkeur nie. Daar is die langdurige saak tussen Astral Foods, wat pluimvee en dierekos verskaf, en die Lekwa-munisipaliteit in Mpumalanga.

Astral het weens die munisipaliteit se mislukking om water en krag aan sy aanleg te voorsien miljoene rande aan opbrengste verloor.

Hierdie twee gevalle is tekenend van hoe doeltreffendheid en ekonomiese volhoubaarheid van landbou-ondernemings van basiese dienste afhanklik is. Daarsonder sal die beleggings in klein dorpies krimp.

Basiese dienslewering raak ook die volhoubaarheid van landbou-ondernemings, want sommige moet nou ekstra koste aangaan om self die basiese dienste te probeer bekom.

’n Soortgelyke krisis staar boere in die gesig. Landbou-ondernemings bied aan plaaslike boere moontlikhede en toegang tot markte om produkte te verkoop. As landbou-ondernemings se volhoubaarheid bedreig word, ly die boere ook. Swak paaie, onbetroubare kragvoorsiening en waterverskaffing raak die winsgewendheid en volhoubaarheid van boerderye direk.

Alle landbou-entiteite skep ook werkgeleenthede vir Suid-Afrikaners met die laagste vaardigheidsvlakke, wat weer onregstreeks die gemeenskappe en klein dorpies onderhou.

Die pad vorentoe

Pres. Cyril Ramaphosa het in Oktober verlede jaar ’n ekonomiese hervormings-en-herstelprogram vir die land uiteengesit. Hierin het hy landbou en voedselverwerking (voedselsekerheid) as een van die aandrywers vir ekonomiese groei en werkskepping geïdentifiseer – verál in klein dorpies.

Maar lewensvatbare landbou-ondernemings sal nie ontwikkel waar munisipaliteite met vrot dienslewering voortgaan nie.

Daar is ’n paar basiese praktiese ingrypingsmaatreëls wat die regering kan toepas. Dit sluit in om te verseker dat ’n munisipaliteit oor bevoegde bestuurslede, finansiële beamptes en siviele en elektriese ingenieurs, asook bevoegde politieke leierskap beskik.

Die finansiële en fiskale kommissie oor wyses waarop munisipaliteite hul inkomste kan aanvul, het onlangs gesê munisipaliteite moet hul lone bekyk om seker te maak dat geld wat vir kritieke diensleweringsfunksies bestem is nie in die vorm van salarisse wegsypel nie. Kritieke dienste sluit in afvalverwydering, afvalbestuur, rioolstelsels, paaie en waterverskaffing.

Hierdie verbeterings en die landbouherlewingsprogram, wat deur die regering se landboumeesterplanne gesteun word, moet tegelykertyd gebeur – nie vóór of eers daarná nie.

Die regering wil die landbousektor laat groei, maar ’n gesonde landbousektor berus op dorpies waar dinge werk en wat die basiese dinge op hul plek het.

Dís ’n bul wat die nasionale regering by die horings moet pak.

Sihlobo is ’n besoekende navorsingsgenoot verbonde aan Wits se skool vir regeerkunde. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Boerdery  |  Landbou  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.