Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Douglas het ouderdom vasgevat

Hulle sê die ouderdom is nie vir sissies nie. Kirk Douglas, gebore Issur Danielovitch, het voor hy onlangs op ’n verstommende 103 die emmer geskop het, dit sekerlik ook ondervind. Dis almal se lot. Jy kan jou tot die dood toe teësit, maar een of ander tyd vat die ouderdom jou, skryf Johan van Wyk.

Die Amerikaanse akteur Kirk Douglas in 1977. Foto: GETTY IMAGES

Maar dalk is dit oneerbiedig om so van die beroemde ou Hollywood-vasbyter te praat. Om die “tydelike met die ewige te verwissel”, is meer gepas. Kansel-Afrikaans. Die ou predikante was lief daarvoor om op ’n begrafnis die oorledene se uitvaart daarmee te beskryf.

Maar 103? Wie wil so oud word? Hoeveel geld moet jy hê om so lank te leef? Met mediese koste in Suid-Afrika buite beheer wil ek nie eens daaraan dink wat dit jou aan dokters sal kos nie. Toe ek my huisdokter daarna vra, het hy gegrinnik soos iemand wat pas die Lotto gewen het.

In sy onderdakparkeerplek het ’n rooi plat kar met vier dik, blink uitlaatpype gestaan. Nie dat ek kla nie. Ek is maar te dankbaar hy het nog nie die pad Perth of Vancouver toe gevat nie. Ek wil dit nie te hard sê nie, maar as ek hy was, was ek lankal daar.

Hoewel ek sien die aanbevole plek om jou tentpenne in te slaan as jy dit in Suid-Afrika wil uittrek, is nou Portugal. Volgens vriende wat onlangs soontoe emigreer het, is medisyne en mediese koste daar heelwat laer as in Suid-Afrika. Kospryse ook.

Ons weet mos ook dat jy lankal goedkoper in Portugal kan vakansie hou as in Suid-Afrika, waar jy nou R1 000 moet neersit om jou kop iewers op ’n leë maag vir ’n nag neer te lê.

Ek weier. Ek het vasgehaak by een pond sewentien sjielings en ses pennies (R3,76c) “dinner, bed and breakfast” met drie soorte vleis op die spyskaart in van die beste hotelle in die land. Plus koffie en beskuit met sonop en jou skoene soggens blink gevryf in die gang voor jou kamerdeur.

Dis wat ek diens en waarde vir geld noem. Maar laat ek nie in die twyfelagtige “goeie-ou-dae-sindroom” verval nie. Een van Kirk Douglas se wyshede was juis “the best thing about the past is that it has past”.

Oor Amerika, waarheen sy armlastige Russies-Joodse ouers uit Belarus geëmigreer het, het hy ’n insig gehad waarmee, met Donald Trump in die Withuis, baie Amerikaners sou saamstem: “What would my parents think about America if they arrived here today? Would they even want to come, I wonder.”

Oor die ouderdom het hy ook ’n paar wyshede kwytgeraak waarmee ek volmondig kan saamstem. “When you reach 95, after you get over your surprise, jou start looking back.”

Wie kyk nie laat in sy lewe in die truspieëltjie nie? Nie net terwyl jy bestuur nie. Om terug te kyk as die skaduwees langer en die afdraande van die dag kil word, is ’n gewilde tydverdryf onder die oues van dae.

Van al sy sêgoed hou ek egter die meeste van hierdie een oor sy loopbaan waartydens hy 90 flieks gemaak het, waarvan meeste suksesvol was: “I did not start out to be a movie star. I started out to be an actor.”

In die rolprent Lust for Life (1956) oor die tragiese, komplekse lewe van die skilder Vincent van Gogh, het hy presies gedoen wat van ’n professionele akteur verwag word. Dis jare gelede, maar ek onthou steeds die dramatiese toneel waar Van Gogh hom uit frustrasie vermink het deur sy oor af te sny.

Boonop het ou Kirk amper op ’n druppel water soos Van Gogh gelyk. Dis nie aldag dat ek Jan F.E. Cilliers se woorde met die afsterwe van genl. Christiaan de Wet, aanhaal nie – nog te meer ten opsigte van ’n Hollywood-akteur: “Stil broers, daar gaan ’n man verby, daar’s maar een soos hy; bekyk hom goed . . .”

Maar waarheen is die wêreld op pad as ál meer in die ou Hollywood-helde se bos begin kap word? Ek weet van omtrent nie een wat nog met ons is nie. Wat ek wel weet, is dat as dit so voortgaan, my dae ook min word . . . beslis minder as 103!

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Kirk Douglas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.