Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dra jou masker en gordel vas
Johanna van Eeden

Dis ’n ritueel om hier teen die einde van die jaar te wil terugkyk en ná ’n bestekopname ook vorentoe, meestal in afwagting en positiwiteit.

Verlede jaar dié tyd was die mantra vir die nuwe jaar “20-plenty” – die vooruitsig vir ’n jaar van oorvloed. En toe gaan die sluise oop.

Die Kersbome was skaars weggepak, toe dreig ’n oorlog tussen die VSA en Iran om die hele wêreld in ’n krisis te dompel. En skaars was dit afgeweer, of ons hele bestaan word oorgeneem deur ’n virus.

Die gevolg? Ekonomieë wat inkrimp, plaaslike ondernemings wat sluit, afleggings, siekte, dood, skok en woede omdat die wêreld (vir altyd?) verander het.

Tussen-in ’n Amerikaanse verkiesing. En nou sprinkane en snywurms.

Maar wat hou 2021 in?

Deur dit alles stoom die Zondo-kommissie van ondersoek soos ’n onverstoorbare trein voort en kom die een ná die ander getuie vorendag met nóg ’n sak (vrot) patats.

Almal, behalwe natuurlik Dudu “Ek wil myself nie inkrimineer nie” Myeni en Jacob “Ek vat eerder die hasepad voor ek myself per ongeluk inkrimineer” Zuma. Trouens, die Zondo-kommissie was waarskynlik een van die ligpunte in ’n donker jaar.

Dit, en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke, waar die ratte van geregtigheid vir die eerste keer in jare weer geolie begin loop het.

Maar wat hou 2021 in?

Ek sien by sommige mense ’n onblusbare hoop dat volgende jaar eenvoudig beter móét wees. Hier en daar is selfs iemand wat meen ons gaan kan terugkeer na “normaal”.

Wat beteken dit?

Want ons het dit op die een of ander manier reggekry om staatskaping jare lank te normaliseer.

Ons het dit reggekry om geweldsmisdaad te normaliseer.

Ons het dit reggekry om geweldsmisdaad te normaliseer. As iets jou oorkom, moet jy net gelukkig wees, “want dit kon soveel erger gewees het”.

Ons het dit reggekry om swak dienslewering te omseil met alternatiewe dienste, of moue opgerol en dit wat stukkend was, self reggemaak. Want dis normaal om dit te doen, terwyl onbevoegde politieke aanstellings groot salarisse ontvang en niks doen nie.

En nou is ons vol hoop, want ons staan aan die vooraand van ’n nuwe jaar en dit kán tog net beter, of hoe?

Die werklikheid is dat ons so opgewonde is oor die vooruitsig om staatskapers in oranje oorpakke te sien, dat ons vergeet ons moet iewers begin om dit wat oor jare stelselmatig onder ons uitgekalwe is, weer op te bou.

Die nagevolge van staatskaping het vanjaar duidelik na vore getree in die ineenstorting van staatsbeheerde entiteite, kritieke staatsdepartemente wat met wetstoepassing werk en die totale verval van dienslewering op plaaslike regeringsvlak – daar waar ons almal dit aan eie bas voel.

Hoe lyk die heropbou-plan? Is daar een?

Hoe lyk die heropbou-plan? Is daar een? En is daar genoeg veerkragtigheid in ons stelsels en mense om sake reg te ruk voor ons oor die afgrond stort?

Of gaan die binnegevegte in die ANC elke greintjie energie opslurp in die stryd tussen die goeie ouens en die slegte ouens? En gaan die goeie ouens wen?

Dit gebeur alles teen die agtergrond van ’n pandemie, wat nie tussen Oujaarsaand en Nuwejaarsdag gaan verdwyn nie, selfs al hou jy op om jou masker te dra.

Covid is ’n werklikheid wat nog lank met ons gaan wees, selfs al word daar sukses behaal met ’n entstof.

Hoop is nie ’n strategie nie.

En as ons iets uit 2020 moes leer, is dit dat al ons planne in ’n oogwink gedwarsboom kan word deur iets buite ons beheer.

Gordel vas. Dra jou masker. En help waar jy kan. Dis die nuwe normaal.

  • Van Eeden is die meningsredakteur van Beeld en Die Burger.
Meer oor:  Johanna Van Eeden  |  Pandemie  |  Masker  |  Geweldsmisdaad  |  Nuwe Jaar  |  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.