Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Drank se siklus van beheer en verset in SA

Vele kommentators, ek inkluis, wys al sedert die begin van die staat van inperking daarop dat pandemies geneig is om ’n samelewing se swere bloot te lê.

Covid-19 het die laaste paar maande op ’n pynlike wyse die ongelykhede in ons samelewing blootgelê en opnuut aan ons gewys hoe ’n korrupte en geplunderde staat sy mense in hul uur van nood in die steek laat.

Niks daarvan is nuut nie, maar midde-in ’n pandemie word dit akuut.

Só het die herinstelling van die drankverbod weer die lig gewerp op Suid-Afrikaners se ongemaklike verhouding met alkohol. Vele owerhede het al in die verlede alkohol probeer verbied of reguleer en misluk.

Dit is ironies dat die eerste fabriek wat in Paul Kruger se Transvaal opgerig is, ’n distilleerdery was. Dit was deel van Kruger se poging om, voor die ontdekking van goud, nywerhede in Transvaal te vestig.

Wrywing oor drank

Kruger, ’n geheelonthouer, het self die fabriek ingewy en dit “Volkshoop” genoem. By die opening van die Delagoabaai- spoorweg in 1895 het drank – baie daarvan uiters verdagte brousels – ook van Mosambiek na die Rand gevloei. Gou was daar wrywing.

Mynbase, wat aanvanklik heel geneë was dat hul werkers hul lone opdrink en sodoende langer in diens bly, was later minder daarmee gediend dat ’n wesenlike deel van hul arbeidsmag soggens onkapabel was. Druk is op die Kruger-regering uitgeoefen om die verkoop van alkohol aan swart mense te verbied, wat toegestaan is. Gou het smokkelhandelaars die plek van wettige verkopers ingeneem.

Deurentyd was daar ook, soos wat kenmerkend van Suid-Afrika se geskiedenis is, ’n sterk raskomponent teenwoordig.

Terselfdertyd, in die laat 19de eeuse Kaapkolonie, waar plaaswerkers deur die dopstelsel verslaaf is, het die Women’s Christian Temperance Union, wat deel was van ’n internasionale beweging om alkohol te verbied, hom die gramskap van wynboere op die hals gehaal. Laasgenoemde het homself as die ruggraat van die kolonie beskou en goed geweet hoe om polities te organiseer en druk op die regering uit te oefen.

Deurentyd was daar ook, soos wat kenmerkend van Suid-Afrika se geskiedenis is, ’n sterk raskomponent teenwoordig.

In die 20ste eeu het munisipale owerhede keer op keer probeer om swart inwoners se toegang tot alkohol te beperk en te bestuur. In Durban is die verkoop van bier beperk tot munisipale biersale. Dié biersale se inkomste is dan gebruik om swart lokasies te finansier en sodoende wit belastingbetalers se sakke te spaar. Teen die 1920’s is die stelsel landwyd uitgebrei.

Bierbrou

Dit het wel ingedruis teen tradisionele bierbroupraktyke.

Boonop was bierbrou ’n manier vir swart vroue om ’n inkomste te genereer. In die 20ste eeu was daar ’n opkoms van die onwettige lokasie-sjebien en sy “shebeen queens”.

Laasgenoemde was in ’n ewige stryd met die polisie gewikkel, wat reëlmatig klopjagte uitgevoer en hul bier vernietig het.

Drank in Suid-Afrika is lank reeds gewikkel in ’n eindelose siklus van beheer en verset en die huidige verbod is in daardie opsig geen uitsondering nie.

In Januarie 1959 het een so ’n klopjag in Cato Manor, buite Durban, tot die dood van nege polisiebeamptes gelei waarop wydverspreide betogings en aanvalle deur vroue op munisipale biersale gevolg het. Dit het nie net gegaan oor hul reg om bier te brou nie, maar ook oor die feit dat hul mans hul huishoudings se inkomste in die biersale weggedrink het.

Ook in die Soweto-onluste van 1976 is daar op munisipale biersale en drankwinkels toegeslaan wat deur die jeug blameer is vir die maatskaplike probleme in hul gemeenskap en ook beskou is as ’n instrument waardeur die owerheid mag en beheer uitoefen.

Dit is maar net ’n paar voorbeelde. Drank in Suid-Afrika is lank reeds gewikkel in ’n eindelose siklus van beheer en verset en die huidige verbod is in daardie opsig geen uitsondering nie.

  • Lindie Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Saterdag Brandpunt  |  Lindie Koorts  |  Drankverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.