Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Drie presidente, die roos, dialoog en die toekoms
Barnard Beukman

O Rose thou art sick.

Die eerste versreël van die Britse digter William Blake se gedig “The Sick Rose” is Vrydag deur Thabo Mbeki aangehaal op die National Founda­tions Dia­logue Initiative (NFDI) se eerste vergadering.

“Die roos wat ons in 1994 geplant het, is siek. En die vraag is nou hoe om daarop te reageer.”

Hy vra dat die dialoog, wat deur ’n groep stigtings begin is, daartoe lei dat gewone mense moet praat.

“Die mense voel baie is nie reg nie oor wat nou in ons jong demokrasie gebeur of nie gebeur nie,” meen hy.

Vir die voormalige presidente Mbeki, FW de Klerk en Kgalema Motlanthe moet die huidige nasionale stand van sake uiters kommerwekkend wees ná alles wat hulle opgeoffer het, het ­Nana Ngobese-Nxumalo, direkteur van die Albert Luthuli-stigting, in haar verwelkoming van die drie gesê.

Volgens haar skep die tydsberekening van die nasionale dialoog ’n “spesiale oomblik” in die land waarin burgers in die naam van die grondwetlike demokrasie moet sê dinge kan nie langer so aangaan nie.

Daar was ’n bemoedigend gemeenskaplike taal oor die huidige politieke krisis...

Motlanthe het onder meer gepleit om groter stabiliteit in die staatsdiens en met kernaanstellings. Volgens hom kom en gaan regerings, maar daar is ’n groter deurlopendheid van ervare en bekwame direkteurs-generaal en senior amptenare nodig vir doeltreffende dienslewering.

Uit vrae vanuit die gehoor het dit gou geblyk dat voormalige presidente wat vertel hoe goed die Grondwet is en dat daarby gehou moet word, vir baie nie genoeg gaan wees nie. Waar is die stem van die nuwe generasies in die dialoog? wil sommige weet.

De Klerk gee gelyk dat die “onderste 40% van die bevolking” se armoede dringend aandag verg. Maar hy maan dit kan net gebeur as die ekonomiese koek groter word en daarvoor is ’n stabiele omgewing vir beleggers nodig.

Die verskeidenheid van rolspelers oor die Suid-Afrikaanse spektrum heen was indrukwekkend. Daar was ’n bemoedigend gemeenskaplike taal oor die huidige politieke krisis, korrupsie, die noodsaak van die oppergesag van die reg en raspolitiek.

Daar gaan gewis nie oor alles konsensus wees nie. Maar ten minste het die groot skrik oor staatskaping baie rolspelers laat besef sekere dinge moet nou uitgepraat word. En as dit die basis van ’n aksieplan vorm, sal die NFDI beslis ’n historiese inisiatief wees. En die ondergang begin van diegene wat Blake in sy gedig beskryf:

The invisible worm,

That flies in the night

In the howling storm:

Has found out thy bed

Of crimson joy:

And his dark secret love

Does thy life destroy.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.