Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Driemanskap lewer dividende
Roelof Botha
Roelof Botha

Die driemanskap op wie se skouers heelwat van die nuwe ekonomiese beleidsuitdaging rus, is waarskynlik in hul noppies met Februarie se werksaamhede, aangesien dividende reeds sigbaar is.

’n Verfrissende staatsrede op 7 Februarie is opgevolg deur ’n begrotingsrede waarin die nuwe finansminister nie geskroom het om organisasies in die openbare sektor vir swak finansiële bestuur en onbevoegdheid te roskam nie.

Die derde leiersfiguur in die pogings om staatskaping en korrupsie met mening hok te slaan en die staatsdiens se algemene bevoegdheid op te knap is Pravin Gordhan, wat saam met Tito Mboweni die sweep gaan klap by die land se openbare ondernemings.

Dié twee toesprake in Februarie gaan ’n bepalende rol in die ontplooiing van pres. Cyril Ramaphosa se nuwe beleidsrigting speel, en ’n uitstaande kenmerk was die klem wat heel aan die begin (van albei) op ekonomiese groei en werkskepping gelê is.

Die breë benadering tot regeringsbeleid tussen oudpres. Jacob Zuma se laaste paar staatsredes en vanjaar s’n verskil soos nag en dag, en dit is duidelik dat Mboweni se rede voortgebou het op Ramaphosa s’n, met pragmatiese nuwe maatreëls om vertroue onder verbruikers en ondernemings te herstel.

Eskom is ongetwyfeld die grootste enkele struikelblok in die pad van hoër ekonomiese groei.

Eskom is ongetwyfeld die grootste enkele struikelblok in die pad van hoër ekonomiese groei, en die regering het daadwerklik opgetree deur fiskale ondersteuning in paaiemente te betaal, onderhewig aan streng voorwaardes.

Die eerste is die verdeling van die organisasie in drie bedryfseenhede, wat ten doel het om die monitering en doeltreffendheid van bestuur by elke kernfunksie te verhoog, asook om die finansieringsbehoeftes te vergemaklik.

Tweedens is ’n splinternuwe en unieke pos geskep, naamlik ’n “hoofbeampte vir herorganisasie”, wat gesamentlik deur die ministers van finansies en van openbare ondernemings aangestel gaan word, met die taak om die regering se regruk-planne deur te sien.

’n Duidelike skuif het plaasgevind van die Zuma-era se ideologiese beheptheid met sogenaamde “radikale ekonomiese transformasie”, oormatige regulering en kaderontplooiing van heelwat oneerlike en onbevoegde persone in sleutelposte in die openbare sektor, tot realisme oor die omvang van die land se ekonomiese uitdagings en die sleutelrol wat die private sektor in die proses van werkskepping moet vervul.

Die land se regruk-span sal verheug wees oor drie vroeë dividende wat reeds deur die nuwe beleidsrigting opgelewer is.

Die land se regruk-span sal verheug wees oor drie vroeë dividende wat reeds deur die nuwe beleidsrigting opgelewer is. Die eerste is die daling in die opbrengskoers op die land se staatseffekte, wat ná die mini-begroting in Oktober begin het en die waarde van die effekte dienooreenkomstig verhoog het – altyd ’n pluimpie vir enige minister van finansies!

’n Tweede dividend was in die vorm van ’n opgradering van die vooruitsig vir Eskom-skuld deur die kredietgradeerder Standard & Poor’s, van negatief tot stabiel, iets wat nogal voorspelbaar was weens die onlangse daling in die opbrengskoers op Eskom se effekte.

Derdens het Suid-Afrika volgens die resultate van die Fraser Institute se jongste globale mynboupeiling ’n allemintige 25 plekke opgeskuif (van 83ste uit 91 gebiede tot 56ste uit 83 gebiede) vir die sub-indeks wat die waarnemings van mynboumaatskappye oor die behulpsaamheid van regeringsbeleid meet.

Ramaphosa en sy binnekring smee heelwat werkbare planne om die groeikoers te verhoog en werk te skep. Sakeleiers in die private sektor moet die kans aangryp om saam te werk deur veral die ernstigste struikelblokke in die pad van hoër groei binne elke kern-bedryfstak onder die regering se aandag te bring. ) Dr. Botha is die finansiële raadgewer van die Optimum-groep.

Standpunt

Meer oor:  Roelof Botha  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.