Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Droogtekalf is in die put

Die Suid-Afrikaanse bevolking neem jaarliks toe. Volgens Statistieke Suid-Afrika staan die land se inwonertal nou op 58,8 miljoen, teenoor 2018 se 57,9 miljoen. Dit is ongeveer 900 000 meer monde om te voed.

Die karkas van ’n koedoe op die kurkdroë bodem van die Gamkadam by Beaufort-Wes. Foto: martin harvey

In sekere oorde word bereken die land se inwonertal gaan teen 2030 sowat 65 miljoen beloop: 6,2 miljoen meer mense wat ’n behoefte aan bekostigbare, gesonde en veilige kos gaan hê.

Kommersiële landbou het in dié verband ’n kritieke rol, maar voer ’n opdraande stryd. Droogtes teister groot dele van die land en in sommige gebiede het nog nie ’n druppel reën die afgelope vier of vyf jaar geval nie.

’n Finansiële krisis soos min staar boere in die gesig. Die uitmergelende droogte, siektes soos bek-en- klouseer, die verbod op vleis- en woluitvoer en swak ekonomiese toestande wat verbruikers se besteebare inkomste dag ná dag wegkalwe, beproef boere, hul gesinne en werkers tot die uiterste. Om nie eens te praat van die mantra van onteiening sonder vergoeding nie.

Internasionale markwoelinge en lae kommoditeitspryse hou verdere finansiële gevolge vir boere in. Veral diegene wat vir die uitvoermark produseer, voel die markwoelinge aan hul bas.

Om te kan uitvoer, verg groot kapitaaluitleg. Só verdien die land broodnodige buitelandse valuta, word werk geskep en is ’n uitvoerwaardeketting oor jare heen ontwikkel wat by die beste ter wêreld kan kers vashou.

Dis nou ás boere goeie pryse op internasionale markte behaal.

Baie is wel in die knyp en gaan nie finansieel oorleef as die regering nie met ’n plan vorendag kom nie. Vir ’n regering wat voedselsekerheid as ’n strategiese prioriteit beskou, word hopeloos te min begrip getoon vir kommersiële boere se finansiële dilemma. Waar is die finansiële hulppakket?

Die Australiese regering staan boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe in droogtegeteisterde gebiede by met ’n verskeidenheid van hulppakkette, dienste en ondersteuningsmeganismes. Boere kan byvoorbeeld aansoek doen om verskeie toelae om finansieel te oorleef en om uitgawes te dek wat verband hou met advies en opleiding.

’n Noodlenigingsprogram word begin om onmiddellike finansiële en/of mate­riële ondersteuning te bied.

’n Noodlenigingsprogram word begin om onmiddellike finansiële en/of mate­riële ondersteuning te bied.

Gemeenskapsorganisasies help met onder meer koopbewyse vir kos, vervoer, die gedeeltelike betaling van munisipale rekeninge, kospakkies, klere en skoolgeld.

Op eie bodem het die nasionale rampbestuursentrum ’n nasionale droogte­koördineringskomitee gestig en het die regering verlede jaar R433,5 miljoen bewillig om gemeenskappe by te staan.

Onder leiding van dr. Zweli Mkhize, toe minister van samewerkende regering en tradisionele sake, is droogte weer as ’n nasionale ramp geklassifiseer. Dis alles positief, maar die krisis bly verdiep.

Kommersiële boere se noodsaaklike rol as primêre kosprodusente en hul kernrol in die landbouwaardeketting word nie heeltemal na waarde geag nie. Veral nie deur die regering nie.

Terwyl die fokus moet val op hoe Suid-Afrika sy groeiende bevolking van kos moet voorsien, asook hoe die kommersiële landbouwaardeketting ondersteun kan word om werkskepping en landelike ekonomiese ontwikkeling teweeg te bring en hoe dit met die res van die wêreld kan meeding, word dit voortdurend onderwerp aan ’n toksies politieke magspel. Dit bring net verdere verarming en verhongering van ons landelike gemeenskappe mee.

Waarom die boer se hand byt wat die land voed? Asof hulle die vyand is! Help hulle eerder om finansieel en die trauma van vele droogtes te oorleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.