Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Droom jy soos Anna Sixkiller in jou eie taal?
Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Anna Sixkiller is ’n Cherokeetaalpraktisyn. Sy’s in haar sewentigerjare, maar werk ná drie dekades nog daagliks voort aan die uitbou van Cherokee as teks.

Sixkiller word groot as Cherokeespreker en leer eers op skool Engels. Haar ma lees vir haar Cherokeestories, maar veral die Cherokeebybel prikkel haar belangstelling. Die Sixkiller-storie kom uit die Cherokee Phoenix, ’n koerant wat vir die eerste keer in 1828 verskyn, vanuit die staanspoor in Engels en Cherokee gedruk, laasgenoemde met sy eie tipografie.

Anna Sixkiller se ywer het my aan ons eie ouma Katrina Esau van Upington laat dink. Ouma Esau (87) is die allerlaaste spreker van N|uu, ons land se enigste oorblywende Santaal. In ’n poging om N|uu ’n oorlewingskans te gee, stig sy in haar agterplaas ’n skooltjie, Tuur na die sterre, waar sy met haar kleindogter Claudia du Plessis die buurtkinders N|uu leer. Vir haar toewyding ontvang sy in 2014 die Orde van die Kremetart (silwer). In 2018 gaan vertel ouma Esau haar storie – Katrina: die dansende taal – in die Kunstekaap, met Coenie de Villiers wat begeleiding verskaf. Helaas moet haar skooltjie weens ’n gebrek aan middele sluit.

Onlangs ontdek ek daar is benewens ons 11 landstale nog maklik 20 ander. Eersgenoemdes kry na­sionale status op grond van ’n drempel van meer as ’n miljoen sprekers. Maar het tale met minder as ’n miljoen sprekers dan nie bestaansreg nie?

IsiHlubi word steeds gepraat in ’n oorgrensgebied waar Lesotho, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal aan mekaar grens.

In die Daily Maverick skryf Masoka Dube onlangs oor Gakwi Mashego, ’n taalaktivis wat hom beywer vir die erkenning van Sepulana as landstaal. Sy mense, die Mapulana, het eens een van die sterkste koninkryke gehad in die streek wat vandag oor dele van Mpumalanga, Limpopo en Gauteng strek. As stigterslid van die Mapulaneng-skrywersvereniging maak Mashego voorbrand vir sy kultuur, geskiedenis en taal.

Die amaHlubi se isiHlubi-taalraad streef daarna om hul taal en kulturele praktyke in ere te herstel, sedert 1873 in die doofpot toe die Britte hul koning Langalibalele tot gevangenskap op Robbeneiland veroordeel.

IsiHlubi word steeds gepraat in ’n oorgrensgebied waar Lesotho, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal aan mekaar grens.

Ander Nguni-tale soos isiBhaca, isiPhuthi en isiNdebele saseNyakatho en Sotho-tale soos seLobedu en seTlokwa is in dieselfde bootjie, deur die dikwels arbitrêre volksindeling van apartheidsbeplanners tot bloot dialekte van groter tale verlaag.

Mashego glo die volgende dekade, deur Unesco tot die Dekade van Inheemse Tale verklaar, kan die deurslag gee vir groter erkenning vir al ons landstale. Onlangse navorsing deur Unesco dui daarop tot 40% van die wêreldbevolking het nie toegang tot opvoeding in ’n taal wat hulle verstaan nie.

Mashego sê die laaste sê: “Ons moet ons tale bewaar om in hulle te droom en met ons voor­ouers te kommunikeer.”

  • Pheiffer is ’n mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Taal  |  Moedertaal  |  Woorde  |  Drome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.