Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Droomstad net dán verwerklik

Pres. Cyril Ramaphosa se droom van die bou van ’n splinternuwe slimstad het die land aan die gons. Hy het liries geraak oor al die moontlikhede en voordele wat so ’n nuwe stad vir die inwoners van Suid-Afrika sal inhou.

Kiepie Jaftha
Kiepie Jaftha

Daar is landsburgers wat saam met die president opgewonde is daaroor dat die president dit waag om buite die boks te dink. ’n Toekomskundige van die Universiteit Stellenbosch, dr. Morné Mostert, meen die droom van die president is nie so vergesog nie.

Die wêreldstad Singapoer is ’n bewys dat so ’n slimstad wel moontlik is. Ondersteuners van die droom koppel dit verder aan die vierde industriële revolusie wat oor die wêreld heen momentum kry.

Op die keper beskou, is dit seker nie verkeerd dat die president droom oor die bou van ’n nuwe stad nie.

Maar hou hierdie droom werklik tred met die hartseer toestande waarin al die Suid-Afrikaanse stede en dorpe verkeer?

Is dit nie dan juis belangrik dat die president die een ding doen (sy droom van ’n nuwe stad) sonder om die ander – die regruk van Suid-Afrikaanse stede en dorpe – na te laat nie.

Elkeen van ons is immers ’n rentmeester van God se aarde.

Christen-gelowiges bely hierdie standpunt juis in Psalm 24:1: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here.”

Dit spreek vanself dat die verkose regering, van wie byna 70% van die verteenwoordigers erken hulle is Christen-gelowiges, opnuut en baie noukeurig van dié Psalm se woorde moet kennis neem.

Niemand het die reg om net links en regs God se aarde te verniel en te verwoes nie. Daarom het die staatshoof en sy regering ook nie die reg om meestal party-lojaliste in kritieke leiers-poste aan te stel nie, (bekend as kaderontplooiing), welwetende dat diegene nie die vaagste benul het oor hoe om die belastinggeld wat aan hulle toevertrou word, korrek te bestuur nie.

Die regering en volksleiers moet allereers na die “eienaar van die land” luister alvorens ’n droomtog aangepak word om ’n nuwe stad te bou.

Die verdoemende verslag van die ouditeur-generaal oor die stand van die finansiële bestuur van byna 300 munisipaliteite is ’n wekroep om belastinggeld doelmatig aan te wend sodat dienste wel klokslag en ingevolge verkiesingsbeloftes gelewer word.

Dan eers sal die betogings oor dienslewering ophou.

Die regering en volksleiers moet allereers na die “eienaar van die land” luister alvorens ’n droomtog aangepak word om ’n nuwe stad te bou.

Indien dit nie reg aangepak word nie, kan dit so maklik in die verplettering van die droom ontaard. Wanneer die planne (drome) van die mense teen die wil van God is, sal Hy nie huiwer om ’n stokkie daarvoor te steek nie.

In Genesis 11 het die mense wat in die vlakte van Sinar gaan woon het, besluit om ’n stad te bou waarvan die punt van die toring tot in die hemel reik. Met hierdie prestasie wou hulle hul eie beuel blaas, soos Genesis 11:4 dit vertel.

God, die eienaar van die land, het inderdaad ’n stokkie voor hul planne gesteek deur hul taal te verwar omdat Sy eer gekrenk is.

Ramaphosa sal sy eie integriteit en die hoop van alle Suid-Afrikaners nog sterker vestig indien hy so spoedig moontlik die vermeende diewe en bedrieërs in die parlement en onder party-volgelinge voor die hof daag.

Die werk van die Zondo-kommissie dra die belofte dat ons eendag al die geld wat bedoel was om ons stede en dorpe se infrastruktuur te finansier terug in die hande van die minister van finansies sal kry.

Hopelik sal die president se droom van ’n nuwe stad tesame met die verantwoordbare instandhouding van ons dorpe en stede verwerklik word.

  • Ds. Jaftha is ’n leraar en ’n onderwyskundige.
Meer oor:  Sona2019  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.