Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dros-verdagte: Rede vir naam
Barnard Beukman

Die besluit om Nicholas Ninow, die vermeende sogenaamde Dros-verkragter, se naam en foto in Beeld te publiseer, is nie ligtelik geneem nie.

Die Strafproseswet bepaal immers dat in gevalle van seksuele misdrywe niemand “op enige manier hoegenaamd enige inligting wat verband hou met die te sprake aanklag” mag publiseer totdat die beskuldigde gepleit het nie.

Dit is van die heel moeilikste besluite wat soms oor ’n redakteur se tafel kom. En boonop sonder dat daar interne konsensus in ons senior span is. Besware teen die besluit hou hoofsaaklik met die beginsel van wetsoortreding verband. Verskillende redakteurs, senior joernaliste en publikasies sal ook in eie reg verskillende redes opper waarom hulle so ’n besluit steun of nie.

Maar ooggetuies het hom luidens berigte besmeer met bloed op die misdaadtoneel betrap.

Die belangrikste oorwegings is:

  • Die volgehoue geweld teen kinders en vroue, wat mishandeling, aanranding, verkragting en moord insluit, hou net aan en aan. In sommige kategorieë neem dit selfs toe. Dit te midde van talle veldtogte, optogte, beroepe deur prominente meningsvormers en meer. Dit is duidelik dat daar daaroor iets in ons samelewing gebreek is. En bestaande wette en regeringsoptrede is lank nie meer voldoende nie;
  • Die slagoffer in dié geval is ’n weer­lose sewejarige meisie. En die aanval op haar erg gewelddadig;
  • Dit het plaasgevind in ’n gesinsre­staurant en winkelsentrum. Die soort van plekke wat hul handelsmerke juis bou om ’n uitnodiging dat hulle veilige ruimtes aan die hele gesin bied;
  • Ninow is onskuldig totdat sy skuld bewys is en dit moet gerespekteer word. Maar ooggetuies het hom luidens berigte besmeer met bloed op die misdaadtoneel betrap. Hy is in hegtenis geneem;
  • Beeld is met die werklikheid gekonfronteer dat Rapport en City Press sy identiteit Sondag bekend gemaak het. Netwerk24 het ook besluit om voort te gaan daarmee;
  • Beeld en verskeie ander publikasies het reeds ’n mate van ’n presedent geskep met die bekendmaking van Danny Jordaan, sokkerbaas, se naam nadat Jennifer Ferguson, voormalige ANC-politikus en sangeres, hom van verkragting aangekla het. Maar ja, word aangevoer: “Jordaan is ’n openbare figuur en dit was daarom in openbare belang.” Openbare belang hou nie vir my net verband met wie uit staatsgeld betaal word nie. Regtig, as die beskerming van ons kinders nie in die openbare belang van ’n eerste graad is nie, kan ons maar hande in die lug gooi en wegstap;
  • Die besluit word steeds gesien as die hoogste uitsondering. Die beskerming van slagoffers en kinders se identiteit bly ’n prioriteit. (Juis om kinderslagoffers se identiteit te beskerm word die Springs-gruwelhuis se ouers se name nie genoem nie.); en
  • In ’n vorige rubriek het ek reeds na die sosialemediagemeenskap verwys as die “fees van oningeligtes”. Hulle weet nie eens deur Ninow se naam te publiseer oortree hulle ’n wet nie. En enige vlaag van wat daar plaasvind, kan beslis nie noodwendig ons norm word nie. Maar in dié geval was daar ’n buitengewone openbare aandrang om te weet.

In die afgelope Vrydag se Brief van die Week in Beeld skryf Jannie Pelser van Krugersdorp: “Maar hier kan geen genade bewys word nie. Daar is geen verontskuldiging en geen versagtende omstandighede nie. Dwelms, drank, verwaarlosing van die vermeende oortreder . . . die kind het daarmee niks te doen nie. Duisend maal nee.”

Ek wil hom nie daardeur by die besluit insleep nie, maar hy verwoord die absolute afsku van die samelewing.

Net dalk dra die besluit daartoe by om ’n ganse samelewing en sy owerheid tot besinning te ruk. En laat ons dit bly bespreek.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Media  |  Verkragting  |  Naam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.